Met die warm somerdae het mense in rye gestaan vir toegang by Paarl-swembad in Faurestraat. Foto: Ernest Kilowan


Ten spyte van Covid-19-veiligheidsmaatreëls wat veronderstel is om by plaaslike swembaddens toegepas te word, blyk dit dat die situasie hier buite beheer is.

Met die warm somerdae nou op hande stroom honderde mense, veral oor naweke, na plaaslike swembaddens vir verligting.

Maar die afgelope naweke het dit gelyk asof die munisipaliteit se Covid-19-regulasies nie hier geld nie.

Boonop bly die Pentzstraat-swembad in Wellington ook steeds vir die publiek gesluit weens herstelwerk.

Volgens Gerald Esau van die munisipaliteit word Covid-19- regulasies en -protokol wel streng by Drakenstein-munisipaliteit se onderskeie swembaddens toegepas.

“Die swembadreëls is duidelik by al ons swembaddens sigbaar en sover moontlik hou die personeel en menseredders toesig dat die reëls nagekom word,” het Esau gesê.

“Dit bly egter ’n uitdaging, want alhoewel kinders herhaaldelik gemaan word oor hul gedrag by die swembad en sommige van hulle selfs verwyder word, luister hulle eenvoudig nie en bly die personeel en menseredders knaend onder druk. Alle swembaddens het ’n gegewe getal wat toegelaat word onder die vlak 1-Covid-19-regulasies en dit word, tesame met die ander Covid-19-protokol, streng toegepas.”

Die opknapping van die Pentzstraat-swembad in Wellington was onderhewig aan goedkeuring deur Erfenis Wes-Kaap.

“Hoewel Drakenstein-munisipaliteit die voorafbeplanning en spesifikasies lank voor die tyd gedoen het, het ons eers teen die einde van Oktober 2021 finale goedkeuring gekry,” het Esau gesê.

Die opknapping van die Pentzstraat-swembad is omvattend. Dit sluit in die vervanging van alle teëls, die vervang­ing van die filters en die chloorstelsel, asook die afbreek van ’n gevaarlike, verbrokkelende duikstruktuur. “Só ’n omvattende projek verg tyd en die munisipaliteit wil gehaltevakmanskap verseker. Om dié rede word genoeg­same tyd aan hierdie projek bestee.”

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Paarl Post – E-edition – 12 March 2026
    Paarl Post – E-edition – 12 March 2026

Gift this article