Stephanie Henderson het Ella Bailey sowat 12 jaar gelede as haar huishulp aangestel, min wetend dat hulle saam nog ’n baie lang pad sou stap.
Hoewel dié twee vroue uit verskillende omstandighede kom, het hulle een ding in gemeen gehad – deernis.
Stephanie en Ella het gereeld Sondagoggende gesels oor die hartseer werklikheid van desperate honger kinders in die gemeenskappe in die omliggende dele van Wellington.
“Ella het my altyd vertel van die klein kinders wat saans by haar huis kom kos vra,” onthou Stephanie.
“Hulle sal saans aan my deur kom klop en vir my sê hulle is honger. As ek vra waar hul ma’s is, het hulle nie regtig geweet nie. Dan het ek hulle laat inkom en vir hulle brood gegee (dit is al wat ek in die huis gehad het) en ’n plek om te slaap,” vertel Ella.
Stephanie en Ella het besluit dat hulle saam gaan werk om ten minste ’n paar kinders (23) in die gebied kos te gee. Die twee het toebroodjies in Ella se kombuis begin maak. Hoewel Ella se huis klein en nie ten volle toegerus was nie, was dit ’n vuurtoring van hoop waar mense in nood aangeklop het.
Stephanie het gou besef dat die behoefte in Ella se gemeenskap oor veel meer as net honger gaan. Oral rondom haar het sy kinders gesien wat koud kry, nie skoolgaan nie of nie gereed vir skoolopleiding is nie.
Stephanie sê sy het haar vriende vertel waarmee hulle besig was en ook boodskappe deur haar kerk versprei.
En so het talle mense besluit om te help.
Binne ’n kort tydjie het hulle hulself in die middel van ’n netwerk omgeemense bevind wat nou meer as 500 kinders in die gemeenskappe van Egoli (Carterville en New Rest), Weltevrede, Van Wyksvlei en Hillcrest help.
Die Ma’s-vir-Wellington-groep het sedert 2008 in ’n organisasie ontwikkel met verskillende fasette en vyf doelgerigte programme – alles op kinderwelsyn gefokus.
Ma’s-vir-Wellington bied twee vroeë kinderontwikkeling-programme aan vir kinders tussen die ouderdom van drie en ses om hulle skoolgereed te kry.
“Terwyl ons aanvanklik almal probeer help het, het dit aan die lig gekom dat hierdie [3-6 jaar] die belangrikste ouderdomsgroep is. Ons het besef as ons kinders kan help om meer voorbereid vir skool te wees, hul kanse om in die skool te bly, dramaties sou toeneem, wat hulle dan uit die strate sal hou en hopelik hul kanse op ’n beter lewe kan verbeter.”
Behalwe vir die vroeëkinderontwikkelingsprogramme bied Ma’s-vir-Wellington ook opleiding aan ouers sowel as mense met spesiale behoeftes.
Al was die gemeenskap van Wellington aan die begin skepties oor Ma’s-vir-Wellington, het hulle vinnig besef dat die organisasie se enigste doel was om te help dat kinders in die gemeenskap gesond is en bo hul omstandighede uitstyg.
Ma’s in die gemeenskap het ook begin betrokke raak by vroeëkinderontwikkelings-programme asook om kos vir die kinders te maak.
Ma’s-vir-Wellington het tans 65 vrywillige en geesdriftige werkers, van wie die meeste uit die gemeenskap kom.
Ma’s-vir-Wellington word ook ondersteun deur ander plaaslike organisasies sonder winsbejag, soos Mosaic, Khula Development and Inceba Trust.
Vandag is Ma’s-vir-Wellington oral in die wynlande bekend as ’n organisasie wat onvoorwaardelik omgee.





