Om ’n maroelaboom in die Paarl aan te tref is amper soos om ’n kokerboom in die Knysna-bosse raak te loop. Die maroela se tuisgebied is die Laeveld van Mpumalanga (insluitend die Kruger-wildtuin), KZN, en noordwaarts deur Limpopo tot in tropiese Afrika – die warm, rypvrye wêreld van hoofsaaklik somerreëns. Wat laat jou dink hy gaan in die Boland met sy droë somers en koel, nat winters aard?

Ek was dus verras om heel toevallig op ’n blakend gesonde, vroulike maroelaboom in Groenvlei af te kom. Dit was vroeg in Februarie en dié boom was swaar belaai met vrugte.

Hier kyk ons na een van die “groot” bome van Afrika, uiters nuttig vir mens en dier, baie belangrik in die tradisionele lewenswyse van groot dele van die vasteland, geliefd en gerespekteer waar dit ook al groei. Dit is ’n bladwisselende of halfbladwisselende boom, gewoonlik tot 10 meter hoog by volwassenheid, alhoewel dit tot 18 meter hoog in gunstige toestande kan word. Dit het ’n regop stam met ligkleurige bas, en ontwikkel ’n sierlike, veelvertakte kroon van glansende, saamgestelde blare. Dit dra aparte manlike en vroulike blomme (gewoonlik op afsonderlike bome) wat gewild is by ’n verskeidenheid van insekte.

Die vrugte wat uit die bestuifde vroulike blomme ontwikkel is die vernaamste rede vir die maroela se status. Hulle word in oorvloed gedra; 500 kg per volwasse boom is nie buitengewoon nie. Die vrug is omtrent so groot soos ’n kleinerige pruim. Dit het ’n taai, leeragtige skil, en bevat ’n lagie sappige, wit, slymerige vleis wat ’n groot, harde pit omsluit. Die vleis, wat goed is om dors te les, het ’n skerp, effe suur smaak. In die pit is daar twee of drie hokkies wat elkeen een saad bevat. Die dop is moeilik om te breek.

Argeoloë was lank dronkgeslaan deur klein stukkies been van ’n dier, volgens ’n spesifieke patroon gevorm, wat hulle in Ystertydperk-terreine aangetref het, totdat een van hulle op ’n dag by ’n nedersetting in die Laeveld verbystap en ’n bejaarde vrou sien waar sy met presies dieselfde instrument besig is om maroelapitte se doppe te kraak.

Die vrugte is aanvanklik liggroen van kleur, maar word liggeel soos hulle ryp word. Hulle val dikwels van die boom terwyl hulle nog groenerig is om dan op die grond ryp te word. Die sap het ’n besonder hoë vitamien C-inhoud, na bewering vier keer die konsentrasie van lemoensap. Die vrugte is gesog onder baie diere – bobbejane, ape, sebras, renosters, wildsbokke, eekhorings, ystervarke . . . en natuurlik olifante wat kilometers ver sal stap (waarskynlik gelok deur die skerp reuk van die ryp vrugte) om hulself te vergryp aan die vrugte. Vir menslike gebruik lewer maroelavrugte uitstekende jellie en konfyt, asook ’n kragtige alkoholiese drank. Die legende van olifante en ander diere wat dronk word van te veel ryp maroelas eet, is egter waarskynlik ’n versinsel.

Groenvlei se maroelabome (daar is twee, ’n kleiner manlike boom neffens die vroulike boom) het ’n interessante geskiedenis. Hulle is afkomstig van ’n familieplaas in die Polokwane-distrik. Van daar is hulle in 2007 deur die boomliefhebber wat hul versorger geword het Kaap toe gebring as jong boompies in plantsakke (in haar handbagasie op die vliegtuig!). By planting is ’n lengte 50 mm-plastiekpyp langs die stammetjie ingelaat waardeur alle water in die somer toegedien is. Vir die eerste twee winters is die bome onder skadunet toegemaak tot bokant ryphoogte. Van die tiende jaar het die vroulike boom begin vrugte dra, aanvanklik lig, vanjaar met mening.

Vir ’n boom met soveel ooglopende landbou-potensiaal is dit voorspelbaar dat kultivars met gewenste eienskappe, soos smaakliker vleis, en ’n kleiner pit, wat meer vleis beteken, ontwikkel sou word. Plantkundiges by die Universiteit van Pretoria is inderdaad reeds van 1980 besig om maroelas te veredel.

Lesers wat maroelabome op hul eiendomme wil plant, sal dus waarskynlik vind dat geënte boompies die beste keuse is. Dit skakel ook die onsekerheid uit oor of die boom manlik of vroulik gaan wees.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article