’n Geliefde onderwyser van Noorder-Paarl Hoërskool, Margaret Wright, tree af ná 37 jaar diens by dié skool.

Met drie dekades in die onderwys het sy al baie uitdagings in die bedryf ondervind, hoogtepunte behaal en goeie lesse oor die jare heen geleer. Wright het ’n paar vrae beantwoord en haar ondervinding gedeel:

Watter uitdagings het u taak as onderwyser in die onlangse jare moeiliker gemaak?

“Elke onderwyser en skool het maar hul eie uitdagings, soos kontekstuele faktore – klasruimte – wat gepaardgaan met dissiplinêre probleme. Oorvol klasse strem intervensie, want dit maak dit moeilik om elke leerder te bereik – veral dié wat sukkel. Die afwesigheid van ’n leeskultuur onder sommige leerders is ’n groot uitdaging in die onderrigproses. Met Covid het ons met baie kleiner groepe gewerk, en dit het onderrig baie vergemaklik. Intervensie kon ook meer geredelik geskied en dissiplinêre probleme het drasties verminder. Maar nou is klasse weer oorvol en opvoeders sal nou maniere moet vind hoe om hierdie uitdagings te hanteer ten einde die onderrigproses te laat plaasvind. Ek wens hulle alle sterkte daarmee toe.”

Het u enige wyse woorde vir die jonger onderwysers wat nou die onderwys betree?

“Die dinamiek van onderwys het oor die jare heen so baie verander. Vandag is dit een van die mees uitdagende beroepe. Vir my was onderwys nooit net ’n werk nie, maar ’n edele beroep – juis omdat ons met edele boustene werk: ons jeug, ons toekomstige leiers.

Om te oorleef moet jy passievol, toegewyd en kreatief wees. Maak die skool interessant vir leerders sodat hulle uitsien daarna. Moenie net die kurrikulum onderrig nie. Onderrig die lewe: lewenslesse en waardes. Maak ook tyd om met hulle oor God te praat. Onderrig geestelike waardes sodat hulle kan verstaan dat die lewe oor meer as net akademie gaan.

Skep ’n positiewe leerruimte waarbinne leerders veilig, vrymoedig en geliefd voel. Moedig wedersydse respek en ’n vertrouensverhouding tussen opvoeder en leerders aan. Onthou – elke leerder is uniek. Doen jou bes om elke leerder toe te rus om eendag ’n positiewe bydrae in die samelewing te lewer, soos verwoord in ons skool se visie en missie.

Wees vriendelik, maar ferm. Moenie in sak en as gaan sit as dinge nie uitwerk soos jy dit beplan het nie. Dit gebeur met die beste onderwyser. Elke dag is ’n leerskool. So, baie sterkte vorentoe en mag onderwys die enigste beroep wees waarin jy wil wees. Wees vriendelik en ferm. Wees ’n rolmodel. Maak jou merk!”

Wat gaan u van die onderwys mis?

“Die onderrig – om te sien hoe ’n lig in leerders se oë oopgaan as hulle die werk verstaan; die mooi tye as swakker leerders in toetse of die eksamen verbeter het en jy sien hoe gelukkig hulle is; die gestres en soms die geskel om leerders betyds vir die finale Nasionale Seniorsertifikaateksamen voor te berei; die oomblik wanneer die uitslae kom en jy sien die trots op leerders en opvoeders se gesigte; die samesyn met geliefde kollegas en die kwinkslae; die imposante gebou van ons skool; ons pragtige skoollied, en, natuurlik, wanneer leerders tyd maak om vir jou ’n WhatsApp te stuur of selfs skool toe te kom net om dankie te sê.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article