Teen die agtergrond van lekkernye wat hulle aan Klein Drakenstein se kinders verkoop, is Apollis en Rosaline ná 34 jaar ’n ware getuienis van uithou en aanhou – deur die goed en die sleg.Foto: Heleen Rossouw


Ten spyte van talle terugslae het Apollis (57) en Rosaline (58) Engelbrecht hul seëninge getel en tot die slotsom gekom om 100 kinders in Klein Nederburg met ’n burger, slaptjips en koeldrankie elk vir Mandeladag te bederf.

Dié hoofstuk van teruggee het gekom na jare lange struikelblokke wat werklik sy tol in 2020 begin eis het toe Apollis sy werk verloor het.

“Ek het destyds nog ’n koffiewinkel in Stellenbosch bestuur, maar met die koms van Covid het ek ongelukkig my werk verloor.

“Ons het uiteraard maar swaar getrek. Gelukkig het ons kerkgemeenskap ons so genadiglik gedra,” verhaal hy aan Paarl Post.

Maar, kom Apollis toe tot die besef, die kerk se ondersteuning kon nie vir ’n onbeperkte tyd as vanselfsprekend geag word nie.

“Ek moes begin optree. Dis toe dat my seun en dogter, Ryno en Adri, vir ons twee sakkies droë vis gekoop het. Ons het egter besluit om eerder dié droë vis vir R170 te verkoop om dit in ons eie snoepie in die buurt te belê.”

So het die kindertjies van Maystraat in die Paarl hul onverpoosd ondersteun, “al was dit net chippies en ’n paar lekkertjies in ons voorraad.

“Dit het vir ons brood op die tafel gesorg,” sê hy.

Net toe Apollis en Rosaline kop bo water kon hou, was sy in 2021 in ’n noodlottige ongeluk betrokke waarin twee mense tragies gesterf het.

“My vrou het toe ’n heupvervanging weens haar beserings in Tygerberg-hospitaal ondergaan. As gevolg van die beserings en voortdurende behandeling het Rosaline haar inkomste ook so verloor.

“Te danke aan ons dogter se insae het dit ons gehelp om die snoepie groter te maak en ’n groter verskeidenheid soetgoed te verkoop. En die kindertjies se merkwaardige ondersteuning het ons bygebly.”

Te danke aan die kindertjies se soettande het dié inkomste die Engelbrecht-egpaar gedra vir, onder meer, die vervoerkostes heen en weer Tygerberg-hospitaal toe.

Met die besef hoe die genade regdeur altyd genoeg is, was dit Rosaline se droom om terug te gee.

Dit veral ná Apollis weer by Food Lover’s in die Paarl gedurende Augustus 2021 in diens geneem is.

“My dogter se kêrel het een mooi dag in ’n taxi gehoor dat Food Lover’s besig is om mense aan te stel.

“Só het hy die volgende dag in die stikdonkerte na die Paarl-markie gegaan om vir ’n werksgeleentheid tou te staan,” voeg Rosaline trots by.

Dit is hoe hy vir Manuel de Freittos ontmoet en sy CV ingehandig het.

“Manuel vra my toe ‘soek jy werk?’ waarop ek natuurlik antwoord: ‘Ja!’ Twee maande gaan toe verby voor ek ’n oproep van mnr. Manuel ontvang. ‘As jy kan sê wie dit is wat vir jou bel, is die werk joune,’ sê die stem oor die foon. Ek sê toe ‘maar hierdie is Food Lover’s!’

“Toe sê Manuel ‘maar die werk is dan joune!’ ”

Te midde van die Engelbrechts se triomf het hulle besluit dit is nou tyd om die kinders van Klein Nederburg te bederf.

“Ons het ons fondsies bymekaar geskraap. Ek het my baas, Fernando de Freittos, gevra hoeveel dit my sal kos om die burger-patties en rolletjies aan te skaf. Toe sê Fernando vir my dat hulle die patties, rolletjies, tamaties en blaarslaai sal skenk.”

Dit is toe dat die uitdeel van tientalle kospakkies aan die buurt se kinders op 18 Julie kon geskied.

“Dit het my so ’n riem onder die hart gelê – die skrif in die Bybel waar Abraham deur God beveel is om sy seun te offer. Abraham het getrou met sy seun en ’n mes in die een hand gestap om sy offerande aan God te eerbiedig. En toe sê God vir Abraham ‘daar is jou ram’ waarmee die Here hom vir sy getrouheid, geseën het.

“Dit is op dié beginsels wat ons die Here bly dien en dankbaar is.”

Apollis het sy seëninge bly tel, veral ná video-opnames van die Engelbrecht-gesin se Mandeladag-vieringe die rondtes gedoen het.

“My base het die video te siene gekry en beloof om die 100 kinders volgende jaar te verdubbel.”

Soos hy en Rosaline terugkyk oor die swaar tye waaronder hulle gebuk gegaan het, het hy sy trots op sy vrou beklemtoon.

“Rosaline se deursettingsvermoë en ondersteuning terwyl sy van die heupvervanging genees het, was merkwaardig.”

Sy kon ses maande lank nie loop nie.

“Eers was dit die rolstoel – toe is ek op twee krukke. Die krukke is stelselmatig vervang met twee kieries,” verduidelik Rosaline.

“Op die ou end het sy die laaste kierie weggegooi en wys weer die huppel in haar stap!” sê Apollis met deernis wat in sy oë blink vir sy vrou van 34 jaar.

Dié twee sien uit daarna om hul snoepie in die voorsienbare toekoms op te gradeer en in ’n alleenstaande struktuur te omskep.

“Die snoepie se naam is nog nie finaal nie, maar ek dink ek wil dit ‘Pingo’ doop, na die noemnaam wat my seun vir my gegee het. Ek glo dit sal nogal catchy vir die kinders wees.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article