Paarlse Landdroshof
Die man wat daarvan beskuldig word dat hy ‘n werknemer van die Paarlse kantoor van binnelandse sake in Julie gebyt het, het vandag (14 November) in die landdroshof in die Paarl verskyn. Foto: Jana Scheepers

Die man wat daarvan beskuldig word dat hy ‘n werknemer van die Paarlse kantoor van die binnelandse sake in Julie vanjaar gebyt het, het vandag (14 November) in die landdroshof in die Paarl verskyn waar die saak vir moontlike mediasie uitgestel is.

Ricardo Williams, die beskuldigde in die saak, staan tereg op ‘n aanklag van aanranding met die opset om ernstig te beseer en word daarvan beskuldig dat hy vir Rencia Valentine, die bestuurder van immigrasie in die Kaapse Wynland- en Weskusdistrikte, en wat ook die klaagster in die saak is, op 23 Julie vanjaar gebyt het.

Die saak is tot 26 November uitgestel nadat Williams vlugtig in die hof verskyn het. Die staat het aangedui dat ‘n konsultasie vir mediasie vroeër moes plaasvind, maar dit kon glo nie, en het dus vir ‘n uitstelling gevra.

Paarl Post het destyds berig dat Williams, na bewering eers ‘n personeellid “lelik aangespreek” het waarna hy toe sy aandag op ‘n kliënt gedraai het en haar in die binnelandse sake-kantoor “te lyf gegaan het”. Die kliënt het toe na buite gehardloop waarna hy haar agtervolg het “en verder geslaan het”.

LEES OOK: Binnelandse Sake in Paarl heropen ná gewelddadige uitbarsting

Williams, wou toe, na bewering, vir die kantoor se bestuurder sien wat glo nie in daardie stadium beskikbaar was nie. Dit is glo toe Valentine haar aan hom bekend stel as die bestuurder van immigrasie in die Kaapse Wynland- en Weskusdistrikte en dat sy die enigste bestuurder beskikbaar was op daardie oomblik.

“‘n Bestuuder se plig is om publiek en personeel te beskerm en omdat Williams aggressief voorgekom het, moes die situasie gestabaliseer word,” het sy verduidelik.

Binnelandse sake
Die Paarlse kantoor van Binnelandse Sake in Kasteelstraat. Foto: Argief/ Jana Scheepers

Daarna het Williams, na bewering, vir Valentine met beledigende taal toegesnou, met haar gestoei en haar gebyt. Volgens haar het sy dit as haar “plig” gesien om die “publiek en staatsbeamptes in die kantoor te beskerm,” en het sy hiervoor die man probeer stop deur hom op die grond vas te pen asook om lede van die publiek na buite te vergesel.

Die man was blykbaar reeds omgekrap toe hy die kantoor vir die eerste keer betree het. Die kantoor was ná die gebeure vir ‘n dag gesluit.

Die nasioanle woordvoerder en adjunk-direkteurgeneraal van operasies, Thulani Mavuso, het destyds bevestig dat sekerheidspersoneel tydens die voorval teenwoordig was, maar dat Williams se beweerde gewelddadige gedrag dit nodig gemaak het dat meer persone moes help om hom te beteuel.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article