Die somer is nog nie eens amptelik hier nie, en reeds is die eerste verdrinking vir die seisoen in die Bergrivier aangeteken.
’n Geregtelike doodsondersoek is deur die Paarl-polisie geopen nadat ’n man se lyk verlede Donderdag in die Bergrivier langs Bergrivier-boulevard in Vrykyk gevind is.
Die polisiewoordvoerder kapt. Louise du Plessis sê die man het na bewering die nag van 26 Oktober verdrink.
’n Vrou wat in die omgewing woon, het op die toneel aan Paarl Post vertel dat sy Woensdagaand gehoor het hoe minstens vier mense langs die rivier kuier.
“Dit het geklink asof die mense wat daar was ’n partytjie gehou het. Die volgende oomblik het ek ’n harde gil gehoor,” sê die vrou.
Sy het oombliklik ondersoek gaan instel, maar sê dat die bystanders se weergawes van gebeure nie met mekaar ooreengestem het nie.
“Die oorledene, genaamd Jesus Koupita van Klapmuts, is Woensdagaand om 21:45 as vermis by die Paarl-polisie aangemeld. Die Paarl-polisie se duikeenheid het Woensdagaand met die soektog na die man se liggaam begin,” sê Du Plessis.
Koupita se liggaam is eers die volgende dag deur ’n verbyganger in die rivier gevind.
“Die duikeenheid het na die toneel teruggekeer en om 11:47 die oorledene se oorskot uit die rivier verwyder. Die publiek word hiermee gewaarsku om nie in die Bergrivier te swem nie.”
Dié noodlottige geval plaas weer eens die kollig op Drakenstein-munisipaliteit se beplanning vir komende hittegolwe wat hordes swemmers van heinde en ver na die rivier lok.
Paarliete wat langs die oewer en in die boulevard-omgewing woon, sidder om te dink aan die chaos wat hom dié jaar waarskynlik weer sal herhaal.
Mense van so ver as Kraaifontein naby Kaapstad het vroeër vanjaar in vlote taxi-busse aangery gekom om in die rivier af te koel.
Dit het uiteraard tot die totale wettelose gedrag van besoekers gelei, wat die gebruik van drank op straat, urinering aan die oewer en in privaat tuine, bakleiery en besoedeling weens rommelstrooi en ander gemors aan die oewer ingesluit het.
Boonop was die verkeer in die boulevard so erg dat sommige inwoners nie toegang tot hul opritte en privaat parkering kon kry nie.
Dié realiteite het gevolg ten spyte van vroeë pogings deur die inwoners om deur ’n vergadering met die munisipaliteit vir dié soort wanorde vooraf te beplan.
Tog het die munisipaliteit misluk om besoekers aan die rivier te beheer. Die burgemeester, Conrad Poole, het selfs sentimente van verdraagsaamheid teenoor besoekers uitgespreek en slegs gewaarsku dat dit onwettig is om in die rivier te swem.
Die gesig van vreugdevolle figure wat vanaf die voetbrug die rivier in duik, het al telkemale in die dood geëindig. Talle verdrinkings is die afgelope jaar in die rivier aangemeld.
“Daar was selfs ’n geval waar ’n dooie liggaam tussen swemmers gedryf het, sonder dat hulle dit besef,” onthou een inwoner van die boulevard.
Ingesluit op die agenda van Vrydag se raadsvergadering wat in die Paarl gehou is, is ’n konsep- munisipale regulasie vir openbare fasiliteite, soos die rivier.
Paarl Post het verlede Donderdag die munisipaliteit gevra of voorsiening vir gebruik van die Bergrivier gemaak word soos die somermaande ontvou.
Geen terugvoering is teen druktyd ontvang nie.