’n Soektog duur voort na ’n Franschhoekse man wat in die see by die Strand vermis geraak het.


’n Soektog duur vanoggend (7 Januarie) voort na ’n Franschhoekse man wat sedert Woensdag in die see by die Strand vermis geraak het.

Alan Meiklejohn, stasiebevelvoerder van die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) Gordonsbaai, het bevestig dat diensspanne is 4 Januarie in kennis gestel oor ’n persoon wat naby die NSRI Gordonsbaai-satellietreddingstasie vermis geraak het.

Vyf vriende van Franschhoek was die dag saam op die strand toe die man glo in die water vermis geraak het terwyl hy saam met twee van die vriende geswem het.

Die NSRI te same met ondersteuning van Stad Kaapstad lewensredders, die EMS, GB Med-ambulansdienste, Kaapstadse brand- en reddingsdienste en wetstoepassings marine-eenheid, Saps en die Strand-gemeenskapsbuurtwag, het op die toneel gereageer.

Die NSRI-reddingstuig Zelda is gelanseer en die EMS Skymed-reddingshelikopter is ingeroep. ’n Hommeltuig is ook ontplooi om met die soektog te help.

“Ondanks ’n uitgebreide lug-, see- en kuslynsoektog is daar geen teken van die 31-jarige Franschhoekse man nie,” het Meiklejohn gesê.

“Polisieduikers gaan voort met ’n deurlopende soektog. NSRI Gordonsbaai, Strand en Stad Kaapstad lewensredders en wetstoepassingsbeamptes hou die situasie dop.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article