’n Geliefde kerkman is Donderdag 25 November 2021 skielik oorlede – waarskynlik aan ’n hartaanval – by Checkers Van der Lingen in die Paarl.

Die voorval het kort voor 20:00 plaasgevind toe Ivan Paulse en sy vrou, Janey, inkopies gaan doen het.

Ivan, wat fris en gesond was, was saam met sy vrou in die winkel toe hy skielik begin sleg voel. Hy het een van die werknemers van Checkers gevra om hom te wys waar die kleedkamers is.

Janey het gesê dat omdat hy lank weggebly het, het sy bekommerd geraak.

Ná herhaaldelike oproepe na sy selfoon het die jong werknemer van Checkers, wat Ivan vroeër gehelp het, sy selfoon geantwoord met die woorde: “Tannie, u moet gou kom. Die oom het collapse”.

Checkers-personeel het Ivan na buite geneem terwyl hulle dringend probeer het om ’n ambulans te ontbied.

Ivan het leweloos in die parkeerarea gelê, terwyl baie mense, onder wie familielede, vriende, die polisie asook die egpaar se leraar, ds. De Wet van VGK Zions in Paarl-Oos, en Checkers- personeel bystand en ondersteuning aan die egpaar verleen het.

’n Paramedikus en ’n dokter het uiteindelik opgedaag om hom te evalueer, maar dit was te laat.

Daarna het Neil Marquard, ’n familievriend van Niels Begrafnisdienste, Ivan op ’n waardige manier verwyder.

“Ek het gebid en gehoop dat hy weer sal opstaan, maar God het anders besluit, naamlik om hom na sy ewige tuiste op te roep,” het Janey gesê.

Sy het haar dank en waardering aan almal uitgespreek vir hul empatiese hulpverlening op so ’n uiters traumatiese oggend.

“ ’n Spesiale dank aan die personeel van Checkers vir hul onvoorwaardelike hulpverlening, die liefdevolle manier om my eggenoot op kartondose gerieflik te maak en die deernis betoon om ’n bossie blomme te skenk sodat ek dit op die plek waar hy die tydige met die ewige verwissel het, kon plaas. Ondanks die trauma en hartseer besef ek dat daar nog mense en instansies is wat ’n verskil in ander mense se lewe tydens teëspoed maak. Die Here seën u.”

Ivan was ’n liefhebber van musiek en was lank by die VGK Zions-gemeentekoor betrokke, terwyl hy ook druk by ander gemeente-aktiwiteite betrokke was.

Hy het vroeër jare by Rembrandt Tobacco in die Paarl gewerk en het in 1973 by Diesel Electric begin werk, waar hy 37 jaar was.

Ivan was in sy jonger jare ’n kranige rugbyspeler. Hy het onder meer vir Happy Hearts, Simondium, Blue Stars Lanquedoc, Villagers Pniël en Lower Paarl gespeel.

Hy en Janey was 43 jaar getroud en een seun (Morné) en twee dogters (Shireen en Liezel) is uit die huwelik gebore.

Ivan laat sy vrou, hul drie kinders, een skoondogter (Marian) en een skoonseun (Grant) sowel as vier kleinkinders en ander familielede agter.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article