’n Gewapende rower is Donderdagoggend ná ’n wilde jaagtog in die Paarl vasgetrek, maar nog verdagtes het te voet gevlug en is nog soek.

Dit volg ná ’n rooftog by ’n winkel op die hoek van Merriman- en Birdstraat in Stellenbosch, waartydens selfone en sigarette gesteel is.

Die rowers het hierna in ’n goudkleurige Mercedes-Benz gevlug, maar veiligheids- en polisiebeamptes was kort op hul hakke.

Die jaagtog het in die rigting van die informele nedersetting van Bloekombos naby Kraaifontein begin en is daarna tot in die Paarl voortgesit. 

Bykomende polisiehulp is ontbied en die voertuig is uiteindelik op die hoek van Hoof- en Optenhorststraat in Noorder-Paarl voorgekeer.

Van die goedere wat tydens die rooftog in Stellenbosch gesteel is, is in die besit van ’n verdagte binne die voertuig gevind.

Kapt. Louise du Plessis, ’n woordvoerder van die Paarl-polisie, het die voorval bevestig. 

Sy het gesê die man is in besit van gesteelde eiendom en ’n nagemaakte vuurwapen gevind en deur lede van die Boland Pops-eenheid in hegtenis geneem. 

“Die 33-jarige verdagte, oorspronklik van Mbekweni, sal in die Stellenbosch-landdroshof op ’n aanklag van gewapende roof en die besit van gesteelde eiendom verskyn.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article