Die heining van die Dalvale-kliniek is plek-plek afgebreek.Foto: Verskaf

Credit: SYSTEM

’n Verpleegster wat by die Dalvale-kliniek in Groenheuwel, Paarl-Oos, werk, kon haar oë nie glo nie toe sy verlede Dinsdag (19 September) sien hoe ’n onbekende man met haar motor uit die kliniek se parkeerterrein wegry.

Elizma Appollis vertel sy was op die betrokke dag besig om na ’n pasiënt om te sien. Toe sy terugstap na haar kantoor toe, sien sy hoe ry ’n onbekende man weg met haar motor.

“Vir ’n oomblik het ek gevries want ek het nie verwag om dit te sien nie, maar ek het onmiddellik my man geskakel.”

Sy is getroud met Avron Appollis, Drakenstein-munisipaliteit se burgemeesterskomiteelid vir gemeenskapsveiligheid.

“Ek het dadelik my man gebel en terselfdertyd my kollegas gevra om die polisie te bel. Ek en nog ’n kollega het in haar voertuig geklim en ons het gery op soek na die motor in ’n nabye gebied. Terwyl ons nog besig was om te soek het my man laat weet dat hulle die motor gekry het.”

Die motor is in die Stokkiesdraai-gebied gevind langs ’n dam op die Swawelstertpad. Appollis het gesê haar motor is toegerus met ’n opspoortoestel, daarom dat dit so vinnig teruggevind is.

Maar sy is steeds baie getraumatiseer oor die voorval. “Ek wil nooit weer in daai motor klim of sit nie. Ek wil nie meer die kar hê nie. Ek was emosioneel en kon nie ophou huil nie toe ek hoor die kar is gevind, want iemand was in my veilige plek.”

Sy het ook besef die motor sal nooit aan die gang kon kom alvorens die persoon nie die sleutel het nie. “Toe ek agterna weer na my kantoor toe is, sien ek my handsak lê oopgegooi op die tafel. Die dief het oënskynlik toegang tot my kantoor gekry, in my sak gekrap en die sleutels gevind.

“Vir iemand om jou veilige plek te betree veroorsaak dat jy nie meer veilig voel in jou kantoor en motor nie en dit is emosioneel nie ’n lekker ervaring nie.”

Appollis meen die voorval het onnodige kommer in haar wakker gemaak. Sy is nog getraumatiseer, is nog nie weer terug werk toe nie en sy loer kort-kort by die venster uit om te kyk of haar nabye omgewing nog veilig is.

“Ons moet die kar gaan afteken en gaan uitken by die Paarl-Oos-polisiekantoor sodat die voertuig huis toe kan kom, maar ek wil glad nie eens die kar sien nie. Ons het iemand gekry wat die persoon gesien het en ’n tip-off gegee het oor wie dit is. So, of die polisie die persoon gekry het, weet ons nie. Hulle het nog niks laat weet nie.”

Appollis voeg ook by dit is nie die eerste voorval wat vanjaar gebeur het by die kliniek wat verband hou met veiligheid nie.

“Een tiener het ’n ander tiener met klippe gejaag en die jongman het in my skeepsvraghouer ingehardloop. Ek het die een wat met die klippe gestaan het, gemaan om te gaan.

“Wat my gesteelde kar betref, dink ek as die hek toe was by die kliniek sou dinge heel anders gewees het, want almal sou gesien het hoe hy die hek oopmaak. Dit sou ’n hele lang proses gewees het.”

Navrae is gerig aan die Wes-Kaapse departement van gesondheid en welstand oor die veiligheid van die mediese personeel by Dalvale-kliniek, asook die kliniek se heining wat plek-plek afgebreek is.

Sandra Maritz, woordvoerder van die departement in die Kaapse Wynland-distrik, sê die departement is teleurgesteld om van die voorval te verneem. “Terwyl ons en die polisie die saak ondersoek, kan ons nie meer besonderhede gee nie. Intussen bied ons wel ondersteuning aan die personeellid deur die departement se welstandsprogram vir werknemers.

“Sekuriteitsrisiko’s word nagegaan en sal bestuur word saam met die kontrakteur wat hier sekuriteitsdienste lewer. Ons vra die gemeenskap om ons te help om gesondheidsdienste en -infrastruktuur te koester, en die polisie te kontak as hulle onraad vermoed.”. A nurse who works at the Dalvale Clinic in Groenheuwel, Paarl-East, could not believe her eyes when she saw an unknown man drive away with her car from the clinic’s parking area last Tuesday (19 September).

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article