Die Paarl-hospitaal se ongevalle-eenheid. Foto: Rasaad Adams


Die Wes-Kaapse gesondheidsdepartement het ’n onlangse voorval ten sterkste veroordeel waartydens ’n 41-jarige man, gewapen met ’n mes, glo ’n verpleër by die ongevalle-eenheid by Paarl-hospitaal aangeval het.

Dean Wilson is vroeg op Sondag 17 November deur sekuriteitswagte by die hospitaal aan die polisie oorhandig en het twee dae later op klagte van aanranding in die Paarl-landdroshof verskyn, het kapt. Louise du Plessis, ’n woordvoerder vir die Paarl-polisie, vandeesweek by navraag bevestig.

“Die polisie het om 08:30 daardie oggend ’n klagte ontvang van iemand wat homself glo wangedra het. Ons beamptes is toe dadelik na die hospitaal waar die 41-jarige Wilson deur sekuriteitswagte aan die polisie oorhandig is.”

Volgens Du Plessis het Wilson na bewering ’n verpleër met ’n mes gedreig en hom deur die hospitaal se gange gejaag.

Wilson is toe deur sekuriteitswagte gevang, waarna die polisie ontbied is.

“Hy is van aanranding aangekla, waarvoor hy op 19 November in die plaaslike landdroshof verskyn het. Hy is intussen tot sy volgende hofverskyning vrygelaat,” het Du Plessis gesê.

Volgens haar is niemand in die voorval beseer nie.

Leensie Lötter, ’n woordvoerder by die provinsiale gesondheidsdepartement, het by navraag bevestig dat die verpleër ongedeerd is.

“Die verpleër is fisiek ongedeerd en het geen beserings opgedoen nie. Hy is ondersteuning en trauma-berading aangebied. Die voorval is ondersoek, en ’n standaard voorvalverslag is voltooi,” het Lötter gesê.

Volgens haar is ’n gehalteverbeteringsplan sedertdien ingestel om personeelveiligheid by die hospitaal te verbeter.

“Die departement veroordeel enige vorm van dreigende of beledigende gedrag teenoor ons personeel en pasiënte en sal sulke gedrag by die relevante owerhede aanmeld.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article