Foto ter illustrasie. Foto: Argief


Die polisie het verlede week nie net daarin geslaag om een van die Franschhoekpas-ontvoerders in hegtenis te neem nie, maar een van die studente wat ontvoer is, het ook al die geld wat sy familie vir sy vrylating moes opdok, teruggekry.

’n 32-jarige man het verlede week in die Caledon-landdroshof verskyn in verband met die ontvoering van twee studente sowat twee weke gelede op die Franschhoekpas.

Hy staan tereg op aanklagte van onder meer ontvoering, roof met verswarende omstandighede en geldwassery.

Paarl Post het verlede week berig oor die twee afsonderlike voorvalle op die Franschhoekpas waartydens ’n fietsryer en twee studente ontvoer en lospryse vir hul vrylating geëis is.

Die ontvoerders het in albei voorvalle met die slagoffers tot in Grabouw gery waar hulle aangehou is totdat lospryse vir hul vrylating betaal is.

Die polisie kon by navraag slegs die voorval waartydens die twee studente ontvoer is, aan Paarl Post bevestig.

Die Burger het vandeesweek by nadere ondersoek bevind die twee studente het op 15 Junie by ’n uitkykpunt op die pas stilgehou om na die sterre te kyk, toe ’n taxi langs hulle stop en twee mans met hamers en vuurwapens uitklim.

Hulle is albei eerstejaarstudente aan die Universiteit Stellenbosch.

Albei studente se gesinne moes lospryse van tussen R50 000 en R200 000 vir hul vrylating betaal.

Die een student het op voorwaarde van anonimiteit aan Die Burger bevestig dat haar vriend se gesin al hul geld teruggekry het.

Die aanklag oor roof met verswarende omstandighede hou waarskynlik verband met berigte dat die een student glo met ’n hamer op sy been geslaan is en ook etlike vuishoue in die sy moes verduur het.

Dit het alles in Grabouw afgespeel terwyl die ontvoerders met hul gesinne onderhandel het.

Albei studente ontvang berading, berig Die Burger.

Hoewel die polisie nie die ontvoering van die vroulike fietsryer, wat voorverlede week in dieselfde modus operandi plaasgevind het, kon bevestig nie, het Paarl Post verneem sy moes ook sowat R50 000 betaal om vrygelaat te word.

Die fietsryer is ook ongedeerd.

Die polisie, in oorleg met die Valke, se ondersoek duur intussen voort.

Paarl Post kon teen druktyd nie bevestig wanneer die 32-jarige verdagte weer in die hof vir sy formele borgtogaansoek sal verskyn nie.

Hy moes die afgelope Vrydag om borgtog aansoek doen ná sy eerste verskyning die vorige dag, maar die koerant verstaan dat sy dossier glo “onvolledig” was.

Intussen het die Fidelity Services-groep in ’n verklaring gesê wanneer dit kom by kapings en ontvoerings, kan individue ’n groot en positiewe verskil aan hul veiligheid maak deur eenvoudig bewus te wees van wat rondom hulle aangaan.

“As ’n verantwoordelike bestuurder en padgebruiker moet jy alle afleidings vermy en 100% van jou aandag op die pad en ander padgebruikers vestig, asook op die veilige werking van die voertuig wat jy bestuur,” het Charnel Hattingh, ’n woordvoerder van die Fidelity Services Group verlede week gesê.

“In die ongelukkige situasie waar jy ’n slagoffer van ’n kaping word, is dit belangrik om kalm te bly en die instruksies te gehoorsaam. Probeer om soveel inligting as moontlik oor die kapers en die ondersteuningsvoertuig wat hulle gebruik, in te win.

“Praat met jou versekeringsverskaffer oor die voertuigopsporingsapparaat wat hulle aanbeveel. Dit kan jou help om jou voertuig op te spoor.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article