Gerrit de Waal (24) se hele lewe het om motorfietse gewentel.Foto: Facebook/TWINZ Motorcycles

Credit: SYSTEM

Die dag toe die weg na sy droom om ’n motorfiets-tegnikus te word uiteindelik suksesvol gebaan is, het elke aspirasie saam die 24-jarige Gerrit de Waal in ’n motorfietsongeluk gesterf.

De Waal is verlede Dinsdag dood in ’n ongeluk op die N1 naby Klapmuts nadat hy vermoedelik beheer oor sy motorfiets verloor het.

Etlike ure voor sy dood het hy uitgevind hy kan die eksamen by merSETA skryf om as ’n motorfiets-tegnikus te kwalifiseer.

Sy meisie, Mia Oberholzer (22), vertel aan Paarl Post dat hy met ’n daaglikse passie vir motorfietse geleef het.

“Almal is so geskok. Dit is eintlik so bittersoet, die manier hoe hy gesterf het. Niemand van ons wou hom so verloor nie, maar tog was hy op sy gelukkigste op ’n motorfiets,” sê sy.

“Hy was ’n vreeslik nuuskie­rige mens, en so leergierig. Toe die motorfiets-gogga hom byt, was dit verby en dit het elke aspek van sy hele lewe oorweldig.”

De Waal en Oberholzer was al ses jaar saam en het ’n woonplek in die Paarl gedeel.

Mia Oberholzer (22) en Gerrit de Waal was al ses jaar saam toe hy onverwags gesterf het.Foto: Facebook

Hy het omstreeks 19:00 laat weet hy is op pad huis toe van Brackenfell waar hy by TWINZ Motorcycles as tegnikus gewerk het.

“My vriendin het gesê sy sal vir ons herderspastei by ons huis kom maak, want ons het vroeër so gesels en Gerrit sê toe hy is ook baie lus vir dié dis.

“Ons reël toe ’n spontane kuier en toe my vriendin en haar verloofde al ’n rukkie by ons was, wonder ons waarom Gerrit so lank neem om te kom.”

Toe hy langer as normaalweg geneem het om huis toe te kom, het Oberholzer se grootste vrees waar geword.

“Ek het sonder ophou sy foon aanhou bel, waarvan ’n paar pogings misluk het. Met die vierde of vyfde probeerslag het ’n polisieman op die toneel geantwoord.”

Die ongeluk het sowat 5 km buite die Paarl gebeur.

’n Polisiewoordvoerder, kapt. FC van Wyk, bevestig dat ’n saak van strafbare manslag deur Klapmuts-polisie ondersoek word.

TWINZ Motorcycles het die tragiese nuus van De Waal se afsterwe op hul Facebookblad gedeel.

“Gerrit, jy los ’n massiewe leemte. Jy was ’n fantastiese tegnikus wat nou sou kwalifiseer. Jy was ’n vriend, seun, broer en ’n fantastiese mens. Ons mis jou klaar!” sê sy kollegas in die plasing.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article