Sowat ses werkers van die ingenieursfirma Malutsa in Wellington pleit al maande lank dat hul base ingevolge die arbeidswet hulle moet aflê ná beweerde jare van rompslomp, onreëlmatige vergoeding, verlengde korttyd en ’n gesloer met verpligte afleggingspakkette.
Dié werkers was op Maandag 20 Maart dus geskok toe die Malutsa-baas nie by die arbitrasie, soos deur die Bedingingsraad vir die Metaal- en Ingenieursbedrywe (MEIBC) opgestel, opgedaag het nie.
“Toe die baas nie opdaag nie, het die MEIBC-kommissaris die arbitrasie tot 20 April uitgestel. Bowendien het hy ons aangeraai om ’n saak by die CCMA oop te maak, aangesien Malutsa nie ons agterstallige vergoeding betaal nie,” sê Charles Arendse, wat tans by dié firma werk.
Maar dit was wel geen verrassing nie toe dié werkers ingelig word dat die maatskappy tans onder sakeredding geplaas is.
Malutsa se besturende direkteur, Bernard Cannon, het dit soos volg bevestig: “Malutsa, wat in ’n baie relevante mark is met ’n 25 jaar-rekord en groot potensiaal in die munisipale, industriële en gasvryheidsmarkte, het met ’n amptelike proses van sakeredding wat by Cipro geregistreer is, begin.”
Volgens Cannon was Malutsa sedert die vroeë 80’s in die water- en afvalwaterbehandelings-bedryf. Daarna is Malutsa in 1997 deur voorheen benadeelde individue gestig om ’n impak op die “hartseer statistieke van hoë werkloosheid in Drakenstein te maak”.
“Die rede vir die bestaan van Malutsa was gefokus om ons mense te probeer ophef en hul regmatige plek in die water- en afvalwaterbehandelingsmark as PDIs in te neem,” vertel Cannon.
Covid en kragonderbrekings
Cannon en sy vennoot, Nathan Herbert, het selfs in Maart 2020 in die kykNET & kie-reeks Klop! verskyn, waar die aanbieding juis op die bemoedigende werksomgewing- en kultuur gefokus het.
’n Keerpunt is in 2011 bereik nadat Malutsa ’n aansienlike wêreldbekende waterbehandelingskontrak met die Suid-Afrikaanse Weermag gerealiseer het.
Cannon meen dit het uiteraard groter fasiliteite en ’n toename in personeel van meer as 150 mense vereis.
“Met die suksesvolle voltooiing van die projek ná 10 jaar, het herstrukturering met personeelvermindering nodig geword omdat geen verdere aansienlike kontrakte gerealiseer is nie.”
Hy voeg by dat die covid-pandemie alle reserwes uitgeput het, terwyl ongunstige ekonomiese toestande weens voortslepende kragonderbrekings heers.
Dis toe dat die maatskappy met kontantvloeiprobleme begin sukkel het.
As gevolg hiervan, sê Cannon, veroorsaak dit dat oorblywende werkers onbepaald op korttyd geplaas is ingevolge 186-prosesse.
“Maar ons het ongelukkig sommige personeel in sleutelposisies deur bedankings verloor aangesien die voorspelde werklading steeds nie betyds realiseer nie.”
Die groep werkers meen egter dat die Malutsa-base hulle moedswillig laat swaarkry.
“Hulle wil ons lewe hel maak sodat ons uiteindelik self bedank en geen afleggingspakket mag eis nie,” beweer Arendse.
“Elke liewe een van ons het al by die bedryfshoof en besturende direkteur (Cannon) gepleit om ons agterstallige geld te betaal, en ons te laat gaan sodat ons vir UIF aansoek mag doen. Maar elke keer is daar net ’n spul verskonings,” verduidelik nóg so ’n werker.
Die groep sê hulle kry tans baie swaar onder finansiële stres wat glo tot agterstallige skuld en skoolfondse lei, en in sommige gevalle veroorsaak dat hul kinders honger ly.
“Dié ou het amper sy motor verloor weens onbetaalde paaiemente. En dié man se kind het hom voor ’n leë yskas laat staan en vra ‘maar pappa, wat gaan ons dan vanaand eet?’ ” voeg die voormalige voorman, Howard Fortuin, by.
Hy beweer selfs dat hy by navraag deur Sars ingelig is dat sy pensioenfonds agterstallig is, “al het Malutsa nog met elke pay check ’n pensioenbedrag van ons salaris afgetrek”.
Op sy beurt is Cannon nou weer oortuig dat “dié groep van ses halfgeskoolde werkers beïnvloed en gelei word deur een ontevrede bestuurder wat besluit het dat dit vir hulle voordeliger sou wees om toegang tot hul MEIBC-pensioenfonds te kry”.
Hy ag die werkers se pleidooi as deel van ’n “strategie” wat hulle aangepak het om hul doelwit te bereik en enige herstruktureringsproses te vertraag.
“Dit behels weerhouding van werk weens sogenaamde gebrek aan kwalifikasies, sowel as sabotasie van bestaande kontrakte om ons voor kliënte sleg te laat lyk, ongebreidelde diefstal van ons gereedskap/toerusting, afwesigheid sonder vooraf-gereëlde verlof of verlof as gevolg van ’n magdom ander wandade.”
‘Wisselvallige werkvloei’
Cannon sê die hele affêre is “besonder pynlik”, veral nadat Malutsa “die ekstra myl gestap het met maatskaplike betrokkenheid in ons personeel se lewe”.
Hier staaf Cannon die firma se welwillendheid puntsgewys: Opvoeding van hul kinders; finansiering vir gesinsgeleenthede; persoonlike finansiering (een van die sleutelklaers skuld glo steeds die maatskappy R120 000 vir skuldredding); voorsiening van vervoer vir personeel tot by hul drumpels en private gebruik van maatskappy-voertuie en fasiliteite.”
Cannon bieg dat die maatskappy ’n gebrek aan kontantvloei het. “Dit is as gevolg van wisselvallige werkvloei wat behoort te verbeter danksy nuwe vooruitsigte tydens dié sakereddingsproses. Dit sluit die huidige likwidasie van bates in.”
Malutsa het glo alle agterstallige vergoeding aan die einde van Desember betaal en het die jaar op ’n “skoon bladsy” begin.
“Ongelukkig het betalings wat ons in Januarie verwag het nooit gerealiseer nie omdat die werkers nie die projekte voltooi het nie, weens redes wat hierbo aangehaal is.
“Ons het toe sommige bates deur ’n lang proses gelikwideer en is positief dat ons alle uitstaande geld voor die einde van [17 Maart] sal kan betaal.”
Wat die MEIBC betref, sê Cannon, het hulle reeds die raad in kennis gestel dat Malutsa ’n afleggingsproses vir die ontevrede werknemers sal instel en dit gedurende arbitrasie sou bekend maak.
Pogings is vandeesweek weer deur Paarl Post aangewend om die huidige stand van sake te bevestig, maar geen verdere terugvoering is teen die tyd van publikasie ontvang nie.





