Dit blyk ’n pad na vredevolle ooreenkomste is tussen die Drakenstein-munisipaliteit en inwoners van Magnolia bereik ten spyte van ’n streng waarskuwing wat deur die DM uitgereik is.
“Die Drakenstein-munisipaliteit wil dit baie duidelik stel dat ons nie enige onwettige optrede sal duld nie. Rooiland in Paarl-Oos is ’n oop munisipale ruimte en ons sal nie die oprigting van enige onwettige strukture hier of in enige ander gebied in die Drakenstein duld nie.”
Só lui die terugvoer van die munisipaliteit se direkteur van behuising en beplanning, Jacqui Samson.
Die Drakenstein-munisipaliteit het aanvanklik in ’n persverklaring op 8 Februarie meegedeel “dat ’n positiewe pad vorentoe bereik is tydens samesprekings tussen die gemeenskap en die munisipaliteit om die onwettige grondbesetting en gevalle van onrus wat [verlede week] by Rooiland in Paarl-Oos voorgekom het, [die hoof te bied]”.
Dit volg nadat betogers vroeër die dag die strate onderweg na die munisipaliteit se kantoorgebou ingevaar het in reaksie op die onluste oor onwettige besettings wat in die voorafgaande dae uitgebreek het.
’n Vergadering is verlede Donderdag onder inwoners van Magnolia gehou om die pad vorentoe in onderhandelings met die munisipaliteit te bepaal.
Een inwoner het Paarl Post laat verstaan dat die munisipaliteit na afloop van onderhandelings glo materiaal en starter kits sou verskaf om behuising vir die geaffekteerde inwoners op Rooigrond te bewerkstellig.
Samson het egter gesê die munisipaliteit het nie belowe om die 14 gesinne van starter kits te voorsien om weer onwettige strukture by Rooiland op te rig nie.
“Kom ons stel die rekord weer eens reg. Die uitvoerende burgemeester, stadsbestuurder en ander senior verteenwoordigers van die munisipaliteit het Donderdag 9 Februarie met verteenwoordigers van die mense wie se onwettige strukture verlede week by Rooiland gesloop is (onder wie Marthinus Gouws en Brandon Jacobs as die koördineerders) vergader.
“By hierdie vergadering het die munisipaliteit aangebied om te reël vir korttermyn-oornagverblyf, komberse en kos vir die 14 gesinne wat geraak is[…]
“Ons het dit ook duidelik gemaak dat die geaffekteerde gesinne die oorblywende dele van hul gesloopte strukture binne sewe dae by die munisipaliteit kan kom haal.”
Die munisipaliteit het die groep verder gevra om die name van die bewoners te verskaf sodat die munisipaliteit met elke gesin individueel kan vergader om hul agtergrond en behoeftes te bepaal en sodoende te bespreek hoe die munisipaliteit hulle moontlik kan bystaan.
“Konsensus is bereik en die ‘komitee’ van mnr. Gouws het hom daartoe verbind dat die groep hierdie besonderhede sal verskaf, maar tot nou het ons steeds nie die lys name ontvang nie,” het Samson Dinsdag gesê.
Die onluste het uiteraard daartoe gelei dat enkele mense – glo met versteekte bedoelings – die narratief onder die gemeenskap van Magnolia wou beïnvloed.
“Die Drakenstein-munisipaliteit veroordeel ook die lasterlike, rassistiese en ongeverifieerde bewerings deur sekere lede van die publiek wat roekeloos op sosiale media versprei word rakende die onwettige inval en die tragiese dood van ’n inwoner, asook die verfilming en verspreiding van selfbevorderende video’s.”
Bogenoemde is in ’n aanvanklike verklaring vervat waarin die munisipaliteit gesê het hy veroordeel enige onwettige en misdadige gedrag ten sterkste.
“Die munisipaliteit doen ’n beroep op alle rolspelers om kalm te bly.
“Die munisipaliteit gee sy volle ondersteuning aan die SAPD in hul amptelike, onafhanklike ondersoek, wat tans na die man se dood aan die gang is.”
Die familie van die 28-jarige Kiano Samuels, wat verlede Dinsdag in die Rooiland-onluste doodgeskiet is, het die Woensdagaand, tesame met die Magnolia-gemeenskap, ’n samekoms ter nagedagtenis van sy lewe gehou.





