Daar is goeie nuus vir aanhangers van die komediereeks Magda Louw wat onlangs op kykNET tot ’n einde geloop het. Magda maak binnekort weer ’n buiging op die teaterverhoog!
Dié lagreeks se draaiboek is geskryf deur Desiré Gardner, wat ook die naamrol vertolk.
Desiré het aanvanklik Magda Louw as ’n eenvrou-verhoogproduksie geskep en dit is in 2021 as ’n kykNET-storiefilm ontwikkel voor dit in ’n reeks omskep is.
Nou gaan Desiré die Magda Louw-verhoogstuk laat herleef en die nuwe weergawe debuteer by vanjaar se Suidoosterfees, wat van 26 April tot 1 Mei by Kunstekaap-teater in Kaapstad plaasvind.
Die gesoute akteur en Kwêla-aanbieder Hannes van Wyk, wat Magda se man se Erhard in die TV-reeks speel, hanteer die regie van die teaterproduksie.
In dié vertoning, sê Desiré, gaan Magda haar siening van vrouwees en menswees met feesgangers deel.
“Dis net Magda op die verhoog, so ons leer haar ken op ’n ander manier, meer intiem. Sy gaan ook dans en sing!”
Desiré sê dit is vir haar wonderlik om te sien hoe kykers met Magda en Erhard vereenselwig het.
“Hulle deel in Magda en Erhard se lief en leed, terwyl hulle daaroor kan lag en nostalgies raak,” sê sy.
“Baie mense sien iets van hulself in een van die karakters of die situasies, want hulle deel dalk dieselfde vrese en vreugdes. Só raak die reeks aan lewenswaarhede waaraan ons niks kan doen nie, soos oudword en verlies.”
Desiré het ook reeds aan die tweede reeks begin skryf en dit sal in 2024 op kykNET uitgesaai word.
Kaartjies vir die Suidoosterfees-produksie is by Computicket te koop.


