Magda Meyer, oftewel die vrou wat duisende in die Drakenstein voed.Foto: Chantélle Hartebeest


Elke week voed Magda se Sopkombuis meer as 2 000 mense in Paarl-Oos, en nou gaan Magda Meyer nog meer kan doen met die R120 000 skenking wat sy onlangs van die Dis-Chem-stigting ontvang het.

Dit is nou al vir baie jare dat Magda haarself so toewy aan die gemeenskap dat sy nie meer met die aantal jare kan byhou, sedert sy met die sopkombuis begin het nie.

“Dit is nou al baie, baie jare. Ek kan nou nie optel nie, maar dit is al bitter lank al, maar ek sal dit aanhou doen. Daar is net een ding wat verander het oor die jare en dis dat ek kan nie meer kos gee hier by my huis nie. Ek kon nie meer slaap nie. Met die covid was dit woes en baie mense het tot hier by my huis gestap, want hulle soek iets om te eet. Met covid het baie mense hul werk verloor. Toe moes ek net die potte aan die kook hou.

“Nou kan ek nie meer by my huis gee nie, maar ek gee nou kos by plekke naby waar die mense woon. Ek het nou weer begin kos uitdeel voor by die ou polisiekantoor [in Paarl-Oos] en dan is daar ook ander plekke waar ek staan en help waar ek kan.”

Volgens Magda het sy die skenking van Dis-Chem laat omsit in koopbewyse omdat sy nie daarvan hou om met die kontant geld te werk nie en omdat dit ook soveel makliker is. Sy sê sy kan nou elke maand R10 000 by Dis-Chem bestee, waar sy goed koop soos babadoeke, salf en ander benodighede.

“As ek sien iemand gaan kraam of iemand is in die nood, dan kan ek vir hulle help. Ek kan nou vir ’n jaar daar koop, wat vir my baie fantasties is. Dis nie altyd dat die kinders doeke het nie en dan loop hulle vir dae met daai nat ding, en dis nie altyd dat die moeders dit kan bekostig nie.”

Magda vertel Dis-Chem het voorheen ook vir die sopkombuis koopbewyse geskenk en hulle kon toe ook vir mamma’s en hul babas bystaan met bottels, pap vir babas en ook melk. Sy voeg by hulle het al verlede maand begin gebruik maak van die koopbewyse. Magda stel dit duidelik dat die benodigdhede wat hulle aankoop, beskikbaar is vir enigiemand wat in die nood is.

“Die goed is mos gegee vir almal. So die goed kan nie hier by my wees nie, die goed moet buite die deur wees, daar waar mense nood het. As hulle vir my vra, dan gee ek.”

Hierdie ystervrou het ook onlangs haar 60ste verjaardag gevier. Haar gesondheid was die afgelope tyd ook nie baie goed nie, maar Magda sê sy is dankbaar dat die Here haar krag gegee het en deurgedra het.

“Ek was mos nou baie siek, so ek kan nie meer doen soos wat ek gedoen het nie, dus moet ek nou baie mense vra vir hulp, al is dit net met die afskil van groente. Baie mense wat vir my kan help, kom help en dit maak dinge vir my soveel makliker.

“Ek is regtig baie dank aan die Here verskuldig. Die Here het my gesond gemaak en dit was genade.”

Op dieselfde noot bedank Magda ook almal wat oor die jare sedert Magda se Sopkombuis se bestaan skenkings gemaak het. Sy sê dit het baie gehelp en help nog steeds om haar taak makliker te maak.

. Every week, Magda’s Soup Kitchen feeds more than 2 000 people in Paarl-East, and now Magda Meyer will be able to do even more with the R120 000 donation she recently received from the Dis-Chem Foundation.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Paarl Post – E-edition – 12 March 2026
    Paarl Post – E-edition – 12 March 2026

Gift this article