Baie jare gelede het L.K. Zeeman Primêr se heel eerste prinsipaal (nou al reeds oorlede) vir ons, as personeellede, gesê “as jy nie die werk wil of kan doen nie, vat liewer jou baadjie en gaan soek ’n ander werk; maar moenie net ’n tjeksoeker wees nie!”
Nou wonder ek net hoeveel werklike diensleweraars by Drakenstein-munisipaliteit is en hoeveel maar net tjeksoekers is, weens luiheid of omdat hulle nie vir hul werk gekwalifiseerd is nie. In Augustus is bouplanne vir my woning ingedien en ek wag nou nog op goedkeuring. Elke keer het hulle ander “uitwindjies”, soos my oorlede grootouma verskonings genoem het.
Ek het selfs ’n professionele kosteberaming vir boumateriaal laat doen, maar teen die tyd dat DM hul werk gedoen het, het pryse seker al verdubbel, of dis nog net my doodskis wat daar ingedra sal word. Mnr. Poole, maak groot asseblief vuur onder hulle en laat jou munisipale bestuurder jou oud-prinsipaal se woorde aan hulle herhaal!




