Maak jou kerrievis ’n paar dae voordat jy dit gaan eet en hou dit in die yskas.Foto: Lise Beyers


Dis vir my ’n baie mooi en spesiale tradisie wat ons hier in die Kaap het – om kerrievis in die Paastyd te eet.

Die vissermanne roep jou langs die pad met hul vrag snoek wat nou so mooi loop en vertel dit is net die regte ding om kerrievis mee te maak.

Die storie loop so dat die vis simbolies is van hierdie godsdienstige tydperk omdat dit verbind word met Jesus as die “Visser van mense”. Talle gelowiges glo ook dis onheilig om Vrydae vleis te eet. Sekere tradisies glo weer niemand mag op Goeie Vrydag werk nie – en ook nie kos maak nie. Daarom moes Paasgeregte voor die tyd berei word.

In vroeër dae moes vis gedroog of gepekel word om bewaar te word aangesien yskaste toentertyd nog nie bestaan het nie.

Wat ook al die rede vir hierdie wonderlike tradisie is – ek is baie dankbaar daarvoor en maak jaarliks my eie in dié tyd.

Vir heerlike ingelegde vis benodig ’n mens vis met ’n stewige tekstuur, soos geelstert of snoek. Kabeljou is ook nommerpas. Die baie grate in snoek pla my egter, dus gebruik ek vanjaar ’n lekker groot geelstert wat ’n vriend, die kranige visskieter Pieter Zietsman, spesiaal vir my geskiet het.

Kerrievis (vir ongeveer 2 kg visfilette):

Sny die vis in kleinerige porsies. Besprinkel die visporsies met sout en witpeper en laat staan totdat die pekelsous reg is.

Vir die pekelsous kook jy eenvoudig ’n halfuur lank die volgende saam:

3 groot uie wat in ringe gesny is

½ koppie suiker

½ koppie appelkooskonfyt

2 eetlepels kerriepoeier (matig),

1 eetlepel borrie,

3 koppies bruin asyn,

1 koppie water

4 suurlemoenblare,

3 eetlepels geskroeide koljander,

4 heel naeltjies en

4 heel peperkorrels

2 teelepels sout

1 eetlepel Maizena

Vir nog ’n bietjie brand kan twee brandrissies bykom.

Braai die uieringe in ’n bietjie olie vir drie minute, maar keer dat dit nie bruin brand nie. Voeg die kerriepoeier by en braai vir nog twee minute. Dan kom die res van die bestanddele by. Laat dit saggies prut vir twintig minute. Proe vir die regte soet-suur-balans waarvan jy hou – dus, voeg óf nog suiker óf nog asyn by na jou smaak.

Los die Maizena in ’n klein bietjie water op en roer totdat dit ’n mooi, gladde pasta is. Voeg by die sous, roer goed deur en prut verder vir 10 minute.

Terwyl die sous prut, pak die vis in enkellae in oondbakke en bak in ’n voorverhitte oond van 180 ºC vir tien minute (15 minute as die vis dik is). Die vis moet nie oorgaar wees nie.

Skep ’n bietjie van die baie warm sous asook uieringe in jou bakke of flesse waarin jy die vis gaan bêre. Pak ’n laag vis daarop en skep dan weer van die sous daaroor, en so maak jy jou bakke vol. Die vis moet uiteindelik bykans onder die sous toe wees.

Sit die deksels op en bewaar in jou yskas. Die vis raak net lekkerder met tyd en sal ’n goeie vier weke so hou.

Eet jou ingelegde vis saam met warm, vars Paasbol­letjies met ’n dik laag botter ge­smeer.

Geniet dit!

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article