Skud daardie beurtkrag-blues af en maak ’n jafel.


Daar was die afgelope week diep beurtkrag en allerlei planne moes gemaak word om kos voor te berei. En dan het die kamp-apparaat hiervoor goed te pas gekom.

As daar nou een kosmaak-apparaat buiten ’n braairooster en ’n driepootpot is wat op ’n kamp moet saamgaan, is dit sekerlik die beskeie jafelpan.

Daardie stewige ou ysterpannetjie, wat bykans geen pakplek opneem nie en slegs twee snye brood benodig om ’n heerlikheid oor die kole mee op te tower – en groot pret vir die kinders is om saam te werk.

Só ’n jafel-braai herinner my baie aan my pizza-maak-kuiers saam met vriende, met allerlei bakkies vol kaas, vleis, seekos en groente – en almal kry dan hul beurt om hul eie skepping op die dun, uitgerolde kringe deeg te maak, wat dan in die pizzaoond gebak word.

Met ’n jafelpan byderhand kry oor­skiet-potjiekos nuwe lewe wanneer dit die volgende dag snoesig in goudbruin boepensbroodjies omgetower word. Vir ontbyt is jafels die geskikte ete, gepak met gebraaide spek, sampioene, roereiers en kaas – net die ding om jou reg te kry vir die dag wat voorlê. En dan word die tjoppies en boerewors van die vorige aand fyngesny om ook ’n smaaklike jafel-vulsel te maak.

Dus is die jafelpannetjie vir my ’n moet om enige vuur – of dit ’n knetterende Bosveld-braai is, of sommer in die gemak van jou kaggel tuis.

Kerrie-jafels: Jy benodig: 8 snye broodolie1 middelslag ui in ringe gesny400 g maer maalvleis2 t. fyngemaakte vars knoffelsout en peper na smaak1 Eetl. kerriepoeier (sterkte na smaak) ¼ t. fyn komyn½ t. borrie½ blikkie gekapte tamaties met sous1 e. tamatiepastabotter

So maak jy: Verhit jou potjie oor die vuur. Voeg die olie en uie by en braai vir ’n paar minute. Verbruin die maalvleis dan effe daarby en meng die speserye en knoffel hierby. Braai vir ’n paar minute om die geure lekker uit te bring.

Dan kom die gekapte tamaties en tama­tiepasta by en sout en peper na smaak. Laat die potjie vir sowat 20 minute oor matige hitte prut. Roer elke nou en dan. As die vleis ’n bietjie droog lyk, voeg ’n knertsie bier of water by, maar die kerrie moenie te souserig wees nie.

Haal die potjie van die hitte af en laat dit afkoel voordat jy jou jafels pak.

Smeer botter aan die buitekant van jou brood en versprei die kerriemengsel oor die skywe.

Maak toe met nog ’n sny brood wat gebotter is. En dan is dit kole toe totdat die jafels mooi goudbruin is.

Smelt-in-die-mond tuna-jafels: Jy benodig: 8 snye brood1 blikkie tuna1 klein ui, fyngekap1 t. mosterd1 t. vars dille1 t. vars grasuie1 t. suurlemoensap½ koppie mayonnaise1 koppie gerasperde kaasagurkiessout en peper na smaak Tabasco (weer eens slegs vir die brandbekke)botter

So maak jy:

Meng die tuna, mayonnaise, mosterd, dille, grasuie, suurlemoensap, ui, kaas, sout en peper en Tabasco goed saam om die vulsel te vorm.

Verdeel die mengsel oor vier snye brood wat aan die buitekant met botter gesmeer is.

Plaas die gesnyde agurkie (ringe of repe) hieroor en sit dan nog ’n sny brood daarop. Nou gaan die broodjie pannetjie toe.

In plaas van botter kan die pannetjie net met Spray & Cook gespuit word sodat die brood nie vassit nie, maar botter bly darem lekker.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article