The Rockets tree binnekort by die Afrikaanse Taalmonument op.


As jy nog nie dié energieke popgroep, The Rockets, in lewende lywe aanskou het nie, is Saterdag 28 Januarie ’n aand wat jy nie kan misloop nie.

The Rockets het al meer as 3 miljoen kilometer gereis en voor miljoene aanhangers opgetree, en gaan voort om plaaslike sowel as internasionale verhoë met hul kleurryke, kompromislose en energieke optredes aan die brand te sing. Die groep is al met onder meer ’n Ghoema-toekenning vereer en hul uitverkoopte vertoning om hul 50ste verjaardag te vier het ’n SAFTA-toekenning vir die beste musiekproduksie ontvang.

The Rockets het al talle CD’s die lig laat sien en is ou bekendes op menige radiostasie – die liedjies van hul jongste Afrikaanse album, “Sonskyn”, word ook gereeld gehoor. Oud en jonk is mal oor Jerry Watt, Manuel Losper, Donovan Dyers, Vinashco Williams en Carlos Griffin se strelende stemme wat musiek van die verlede tot die hede tot harmonieuse lewe bring.

Die vertoning begin om 20:00 in die Tuinteater op die grasperk aan die voet van die monument – net betyds vir die pragtige sonondergang en maanopkoms. Besoekers kan enige tyd tussen 17:00 en 22:00 kom piekniek hou en die monument besigtig. Gaste word aangemoedig om die omgewing te verken en het ook toegang tot veilige parkering, ’n pendeldiens, buitelug-speletjies, speelparke asook tydelike uitstallings. Helaas word geen honde of vure toegelaat nie.

Gaste is welkom om hul eie pieknieks en drankies (geen glas) te bring of vooraf ’n piekniekmandjie by Die Suikerkan by 082 216 2510/082 856 1871 of info@diesuikerkan.co.za te bestel – hierdie koffiewinkel sal ook verversings tydens die geleentheid verkoop. Onthou warm klere, ’n kombers of kussing en flits.

Kaartjies, wat na verwagting vinnig gaan uitverkoop, is vooraf by Computicket en die Taalmonument teen R120 vir volwassenes en R100 vir pensioenarisse, studente en kinders onder 13 jaar beskikbaar. As daar kaartjies oor is, sal dit vanaf 17:00 by die hek verkoop word.

. Vir meer inligting oor al die ander opwindende geleenthede, konserte en kursusse by die Taalmonument en Taalmuseum, skakel 021 872 3441/ 863 0543, besoek taalmonument.co.za of volg hulle op Facebook. Die webtuiste bied virtuele toere van die monument en museum, inligting in ses tale oor die simboliek van die Taalmonument asook interessante artikels oor Afrikaans, veeltaligheid en die instelling se verlede, hede en toekoms. Daar is ook bronne vir skool- en navorsingsprojekte. Jaarpermitte kos slegs R120 vir individue of R220 per gesin, wat toegang tot alle volmaanpieknieks insluit. Die koffiewinkel bied daagliks heerlike kos en pragtige vergesigte.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article