Waar het die kinders hul respek en dissipline verloor? Die manier hoe hulle aangaan met grootmense gee my ’n pyn in my bors.
Ek kan my net indink waardeur die onderwysers elke dag moet gaan. Die goeie uitgesluit, maar baie van die jongspan se ouers sal ’n plan moet maak. Hulle is ons toekoms, maar hulle mors eerder op en is nie gepla met die volgende persoon nie.
Covid het ons almal so te sê in huisarres gehad. Ons almal is gefrustreerd. As jy enige buitengewone gedrag by jou kind opmerk, doen dan ondersoek. Net soos die gesegde sê: “Buig die boompie terwyl dit nog jonk is.” Ons moet ons kinders laat verstaan dat respek en dissipline jou ver in die lewe gaan neem. Sonder dit gaan hulle net ’n probleem vir hulself en ander mense wees.
Laat ons weer hande vat en saam ons kinders as ’n gemeenskap grootmaak. Laat ons die kinders aanspreek wanneer hulle verkeerd doen, sonder dat ouers dit persoonlik vat.



