Daar is die afgelope weke ’n klein debatjie oor ’n baie groot onderwerp in die media gevoer oor hedendaagse skoolvakke. Vrae soos: Wat beteken matriek nou eintlik? En: Rus skoolvakke jongmense voldoende toe vir die lewe?
Die antwoord is ongelukkig nee, want hulle word niks oor etiek, of te wel karakterkunde, geleer nie.
Die Afrikaanse Verklarende Woordeboek sê etiek is ’n onderdeel van die wysbegeerte wat oor sedelike gedrag en waardes handel. Pansegrouw se woordeboek noem dit gedragskunde, karakterleer en karakterstudie.
’n Paar stemme het sopas opgegaan om te vra dat ’n vak soos verbruikerstudies eerder met die vak etiek vervang moet word. Ek reken dis uiters noodsaaklik. As kinders nie oor waardes, sedes en gedrag geleer word nie, verwag ons mos hulle moet dit sommer iewers langs die pad so terloops “optel”.
Dis die fout met Suid-Afrika: Daar is grootliks net mooi geen sin vir die morele, die sedelike en die praktiese doen van wat reg of verkeerd is nie. Dis asof mense nie weet wat is reg of verkeerd nie, of hulle weet, maar dié wete suig aan die agterste speen waar die suur melk uitdrup.
Veral ons politici stel net mooi geen voorbeeld vir ons kinders nie, want die een is meer korrup as die ander. Hierdie korruptici is die kleptokrate wat vir kinders leer dis maar reg om die staat se geld te steel, dis maar reg om noodvoorraad wat vir vloedslagoffers bedoel is vir jou self toe te eien, en dis oukei om elke maand so bietjie Sassa-pensioengeld by jou reeds reuse-salaris te trek, moet net nie uitgevang word nie.
Waarin het ons verval? Ek meen, as iemand soos Frikkie Manewales met die rooi beret as “the honourable member” aangespreek word, wat is eerbaar daaraan? Kinders is nie blind nie en ook nie doof nie, hulle sien dit. En op die ou einde boots hulle daardie rampokkergedrag na.
Dis uiters belangrik dat etiek as vak op skool aangebied moet word. Ons het nog bietjie tyd om ’n verlore geslag oor etos, waardes en goeie sedes te leer. Dit sal niemand help om te beweer dis ’n Westerse ding nie, want in die Ooste het mense wel beginsels, diewe en korruptes gaan summier tronk toe. Daar is reëls en beginsels wat afgedwing word en wat vir almal geld, nie net vir sekeres nie.
In Suid-Afrika word onetiese gedrag weens rompslomp aangemoedig. As ’n mens byvoorbeeld ’n jaar moet wag vir iets eenvoudigs soos ’n openbare bestuurspermit, wat doen jy intussen om te kan eet? Jy gaan koop een op die swartmark. Dis ’n florerende bedryf. Wat doen jy as jy nie werk het nie en jy is honger? Jy gaan steel die land se kabels, want dis kosgeld.
As etiek in die pad staan van eet of nie eet nie, wat gaan jy doen? As jy nie die nodige onderbou op skool al gekry het nie, dan weet ons wat is die antwoord. G’n wonder daar is al hoe meer 14-jarige meisies met babas nie.
Dis tyd om vir kinders oor etiek te leer.




