Gister was dit terug skool toe vir duisende leerders in Drakenstein.

En weer is daar kommer by talle ouers wie se kinders nog nie in skole geplaas is nie en krap die onderwysdepartement kop om plek in reeds oorvol klaskamers te vind. ’n Behoefte aan nog skole is voor die hand liggend en ’n mens kan maar net hoop dat die finansiering daarvan voorkeur sal kry.

Vir die graadeentjies – maak die beste van jou tyd op skool. Leer so veel as wat jy kan, bou sterk vriendskappe en geniet die toebroodjies wat jou ma, pa of voog vir jou met liefde inpak.

Twaalf jaar gaan in ’n oogwink verby en is ’n druppel aan die emmer teenoor die lang grootmenslewe wat ná skool wag. Geniet hierdie fase van jou lewe; daar is meer as genoeg tyd om ’n grootmens te wees, en hoewel jou ouers dit dalk maklik en moeiteloos laat lyk, dink ons as volwassenes dikwels terug na ons sorgelose kinderdae sonder die stres wat met werk en die stygende lewenskoste gepaard gaan.

Aan vanjaar se matriekgroep, wat gister vir die eerste dag van hul laaste jaar aangetree het – laat jul laaste jaar tel. Sit alles in, neem aan alles deel en onthou die raad wat die wyses en gryses so tussen die klasles deur deel: dit kom jou later jare goed te pas. Voorspoed, Klas van 2024!

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article