Iets moet dringend gedoen word vir die beveiliging van die Arboretum.

Ek het verlede week oudergewoonte helderoordag in die eens pragtige boompark met my hond gaan stap – helderoordag, omstreeks 12:00.

Twee seuns kom toe aangeloop – ek skat hulle so 12 of 13 jaar oud. Hulle het verby my gestap, maar toe vinnig weer omgedraai en my met stokke bestorm. Hulle wou my beetpak – en toe is hulle skielik meer.

Gelukkig stap ek met pepersproei wat ek vinnig uitgehaal en na die een seun se gesig gewys. Dank die Vader dat hulle toe gevlug het sonder dat die situasie buite beheer geraak het.

Nie te ver daarvandaan nie, op die oewer van die Bergriver, was wel twee wetstoepassers, maar dit het eerder gelyk asof hulle ’n Sondagpiekniek hou eerder as om die park te patrolleer. Ek het hulle genader en die situasie verduidelik en hulle het doodluiters hul skouers opgetrek en gesê hulle is bewus van die kwajonges wat dag in en dag uit in die Arboretum ronddwaal en skoorsoek, maar daar is niks wat hulle aan die situasie kan doen nie omdat die boosdoeners minderjariges is.

Wel, ek het byna op my rug geval met hierdie houding.

Dit het my laat terugdink aan die voorval vroeër vanjaar toe ’n bejaarde man ernstig beseer is toe hy ook deur ’n groep seuns aangeval en met ’n gholfstok disnis geslaan is.

Ek is seker dit is hierdie selfde kalante wat daarvoor verantwoordelik was. Wat ook skokkend is, is die munisipaliteit se reaksie op die voorval: “Ons is nie verantwoordelik vir veiligheid nie!”

Is die Arboretum dan nie munisipale grond nie? Dit is ook ’n openbare gebied, bestuur deur die Drakenstein-munisipaliteit, dus moet hulle verantwoordelik gehou word vir veiligheid hier.

Ook, ten spyte van die miljoene rande wat die munisipaliteit van Duitsland af ontvang het vir die opgradering van die park, lyk die plek maar power. Dit behoort een van die kroonjuwele van die Paarl te wees, maar dit is nie ’n goeie toonbeeld van instandhouding nie.

Gaan die stadsvaders eers wakker skrik wanneer ’n noodlottige aanval hier plaasvind – of gaan hulle weer net hul skouers optrek en hulself vryspreek van enige verantwoordelikheid?


Divvie,

Paarl

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Paarl Post – E-edition – 12 March 2026
    Paarl Post – E-edition – 12 March 2026

Gift this article