Foto ter illustrasie. Foto: Argief


’n Inhegtenisneming deur die Groot Drakenstein-polisie, wat ook tot ’n lewenslange vonnis gelei het, was vir ondersoekbeamptes ’n bittersoet oomblik.

Dit volg nadat ’n ma wat haar babadogter versmoor het, vasgetrek is en verantwoordbaar gehou kon word.

Volgens sers. Charlene Pietersen, ’n woordvoerder vir die Groot Drakenstein-polisiekantoor, het die polisie in Augustus 2021 ’n oproep van Lanquedoc ontvang. Hulle is na Botterblomstraat ontbied en het hier ’n vyf maande oue dooie baba aangetref.

Volgens Pietersen het die baba-dogtertjie se ma, Nam Kayise (nou 26), ’n familielid gevra om na haar kind te kyk.

Die familielid het toe by die huis aangekom terwyl Kayise nog daar was, maar kort nadat sy by die voordeur uitgestap het om vir vriende te gaan kuier, het die familielid op die baba se lyk afgekom, sê Pietersen.

Met die polisie se aankoms het hulle dadelik onraad vermoed, waarna ’n saak aanhangig gemaak is.

’n Paar dae nadat die Groot Drakenstein-polisie hul ondersoek begin het, het ’n familielid na vore gekom en die polisie in kennis gestel dat die baba deur Kayise versmoor is en dat sy glo haar skuld beken het.

“Die [familielid] het gesê dat die ma [Kayise] vir iemand vertel het dat sy haar baba versmoor het, en dit is toe dat ons [Groot Drakenstein-polisie] haar in hegtenis kon neem,” sê Pietersen.

Sy verduidelik dat Kayise haar babadogtertjie se mond en neus toegedruk het deur ’n bottel se prop oor dié areas te druk totdat sy ophou asemhaal het.

“Dit is die eerste keer waarvan ek weet wat ons [Groot Drakenstein-polisie] só ’n saak ondersoek het,” sê Pietersen.

“Sy [Kayise] het geen emosie getoon nie.”
Charlene Pietersen

“Sy [Kayise] het geen emosie getoon nie.”

Verlede maand, drie jaar ná die moord, is Kayise skuldig bevind aan moord, waarvoor sy ’n lewenslange vonnis (20 jaar) sal uitdien.

Volgens Pietersen is sy en haar kollega’s verheug oor die inhegtenisneming en uiteindelike vonnisoplegging, maar ook hartseer dat ’n onskuldige lewe geneem is.

Kayise het nog ’n vierjarige dogter, wat sedert Augustus 2021, ná die moord op haar vyf maande oue babadogter, in pleegsorg geplaas is.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Paarl Post – E-edition – 12 March 2026
    Paarl Post – E-edition – 12 March 2026

Gift this article