AJ du Plessis en sy ma, Martha, is albei finaliste in die Blitsbedryf-talentkompetisieFoto: Herman du Plessis


’n Musikale ma en seun van Wellington, Martha en AJ du Plessis, is gekies as finaliste in die landwye Blitsbedryf-talentkompetisie.

Die wenners van die verskillende afdelings sal in Pretoria verfilm word, en hul optrede sal op televisie uitgesaai word. Hulle wen ook R5 000.

Deelnemers moes aanvanklik ’n video van een minuut inskryf. Meer as 1 000 inskrywings is vir die kompetisie ontvang. Van die kategorieë waarvoor ingeskryf kon word, is dans, sang en drama – in drie ouderdomskategorieë.

AJ is ’n finalis in die algemene kategorie vir juniors. Op die video wat hy ingeskryf het speel hy op die blokfluit die populêre liedjie “How far I’ll go” uit die rolprent Moana. Martha, wat ’n musiek­onderwyseres is, is ’n finalis in die ope afdeling. Sy het self die gospellied “U is wonderbaar” geskryf wat aan haar ’n plek as finalis in die ope afdeling besorg het.

Wenners word op grond van die hoeveelheid stemme wat deelnemers kry, asook die beoordelaars se menings bepaal.

Om na hul inskrywings te luister, besoek www.blitsbedryf.tv.

Om vir AJ te stem, SMS BB38 na 47620 teen 12 April. Om vir Martha te stem, SMS BB55 na dieselfde nommer.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article