Jenny Cloete en haar dogter Kristen-Kay Cloete op die stel van My ma kook beter as joune.

Credit: SYSTEM

Nóg ’n ma en dogter van die Paarl het onlangs die potte laat prut op die kookprogram My ma kook beter as joune.

Jenny Cloete en haar dogter Kristen-Kay het tydens die onlangse episode in dié gewilde kykNET-program as die wenners weggestap.

“Ons is so half en half ingeboelie om deel te neem. Ons het by Mnr. Morrie van die program gehoor. My man (Harlan) het die organiseerder van die program, Ian du Toit, gebel en hom my nommer gegee en gevra hy moet my bel. Ian het dit so maklik laat klink dat ek toe besluit het om deel te neem,” verduidelik Jenny.

Sy sê hul deelname was baie pret en sy het die hele verfilmingsproses interessant en insiggewend gevind.

“Sodra die adrenalien inskop en jy teen tyd moet werk, vergeet jy van ’n kamera en jou fokus is net om betyds klaar te kry. Die ervaring was egter ongelooflik en het al ons verwagtinge oortref.”

Vir Kristen-Kay was die ervaring baie lekker en sy sê die produksiespan het hulle heel gemaklik laat voel, maar dit was tog ook “senutergend”.

Die twee het pannekoek met ’n skelvis-vulsel (haddock) voorberei.

“Die uitkoms was beter as wat verwag is, want die eerste pannekoek was ’n groot flop,” vertel Kristen-Kay.

Twee spanne, wat uit ’n ma en haar kind bestaan, neem in elke episode deel. Die reëls van die kompetisie behels verder dat die kind ’n gereg binne ’n beperkte tyd moet voorberei terwyl die ma net instruksies mag gee en toekyk hoe haar dogter (of seun) die nodige doen.

“Ek is ’n uitgetrede onderwyser, dus is instruksies gee ’n tweede natuur by my. Dit was nogal frustrerend as Kristen-Kay te stadig na my sin gewerk het,” erken Jenny.

Kristen-Kay ken haar ma soos die palm van haar hand en voeg laggend by: “My ma is gewoonlik ongeduldig met my in die kombuis, want ek is so stadig. So, ek weet dit moes vir haar frustrerend gewees het, want sy spring gewoonlik in en doen dit self.”

Die twee is nie net ma en dogter nie, maar ook boesemvriende.

“Ons het ’n goeie verhouding. Ek bel my ma vir enige geringe ongerief, en sy is altyd daar om my aan te moedig en te ondersteun. Ek is haar broke bestfriend,” sê Kristen-Kay.

Jenny, ’n afgetrede onderwyser, en Kristen-Kay, ’n kandidaat-prokureur by ’n regsfirma in Bellville, stem saam hulle sal enige tyd weer so ’n avontuur saam aanpak.

Jenny kan nie uitgepraat raak oor watter “ongelooflike” ervaring dit was vir haar om die eerste keer aan so ’n program deel te neem nie.

“Daar is tonne sulke geleenthede daarbuite en ek hoop dat ander die vrymoedigheid sal hê om ook in te skryf en deel te neem.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article