Om te kook kan baie ontspannend wees, maar wanneer jy jou ma se instruksies by die kospotte moet volg terwyl sy toekyk, is dit ’n hele ander storie.
Vra vir Bronwynne Morrie van die Paarl wat onlangs saam met haar ma, Nicolene Morrie, deelgeneem het aan die KykNet-kookprogram My ma kook beter as joune.
Bronwynne, bestuurder van die plaaslike kafee The Gathering Café, vertel dat hulle die advertensie van die program op televisie gesien en gedink het dit sal ’n lekker ervaring wees. Veral omdat sy ook hou van die internasionale kookprogram Chopped.
“Dit was sekerlik een van die coolste en mees fun oomblikke wat ek met my ma kon deel. Al het ons nie gewen nie, was selfs die oomblik en die adrenalien insane. Eerlikwaar, dit was soveel pret en ’n wonderlike ervaring.”
Vir Nicolene, ’n afgetrede onderwyser en ’n voormalige skoolhoof van Paulus Joubert Sekondêr, was dit ’n lekker uitdaging, maar sy bieg dat dit verskriklik senutergend was.
“Jy moes jou woorde mooi kies, want baie mense gaan die program kyk. Dit was goed om te sien wat alles agter die skerms gedoen word. Kameramanne, ligte, grimering en vele meer. Die mense werk hard en ek het groot respek en waardering vir dit wat hulle doen. Dit was goed, maar dit het my geleer dat ek nie ’n goeie aktrise is nie. Bronwynne aan die ander kant het dit voor die kamera geniet. Sy is meer uitgesproke en spontaan.”
Die ma en dogter duo het kapokaartappels, gebraaide uie, botterskorsie en broccoli voorberei. Die program behels twee spanne wat meeding om die prys van R10 000. Die spanne bestaan elk uit ’n ma en hul kind. Die kind moet binne ’n beperkte tyd ’n gereg voorberei, terwyl die ma net instruksies kan gee en toekyk.
“My ma was ’n onderwyser en ek’t geweet sy gaan baie direk wees, en die instruksies was so. Soms in die oomblik dan luister jy nie so aandagtig soos wat jy moet nie, maar sy was great. Ek wens net ek kon bietjie beter geluister het,” sê Bronwynne.
Nicolene aan die ander kant voel haar dogter het goed geluister, maar die tyd was net ’n bietjie min. Dit was ook glad nie frustrerend vir haar om die instruksies te gee en toe te kyk hoe Bronwynne dit volg nie. Sy meen hulle het ’n goeie verstandhouding.
“Ek en Bronwynne kom baie goed oor die weg. Ons hou daarvan om saam tennis te kyk en om te gaan fliek. En ons gunsteling is om na enige winkelsentrum te gaan. Al koop ons niks nie, dis net om rond te loop en mekaar se geselskap te geniet. En ons twee kan mekaar op ’n geestelike vlak bemoedig en inspireer ook. Bronwynne weet sy kan met my oor enigiets gesels. Sy kom altyd na my toe om raad te vra. Sy is nie bang om haar mening te gee nie, of sy sal my sê as sy nie met my saamstem nie.”
Hulle al twee erken dat hulle nie enige tyd gou weer aan ’n kookprogram sal wil deelneem nie. Nicolene sê al vooruit sy sal eerder agter die skerms wil uithelp. Volgens Bronwynne sal sy enige avontuur aanpak saam met haar ma, maar dit moet nie die sny van ’n ui behels nie.
Verder sê Bronwynne sy wil ander mense bemoedig om die kans te waag en aan kompetisies soos hierdie deel te neem .
“Nie vir die geld nie, maar vir die ervaring self. Ons het ’n paar bekende mense gesien en ons het ervaar hoe dit is om op ’n stel te wees en hoe die hele produksie gedoen word.”
- Mother and daughter, Nicolene Morrie and Bronwynne from The Gathering Café in Paarl, Morrie recently took part in a KykNet cooking programme.





