Lynelle Kenned (regs) saam met die mede-operasanger Luvo Maranti en die pianis Stefan Lombard. Hulle tree Sondag saam by Diemersfontein, Wellington, op.Foto:

Credit: SYSTEM

Paarl se eie opera-sensasie, Lynelle Kenned, sal Sondagaand in ’n one night only-optrede by die Diemersfontein-landgoed buite Wellington te sien wees.

Lynelle sing saam met nog ’n befaamde operasanger, die tenoor Luvo Maranti, in sy afskeidskonsert voor sy vertrek na Italië, waar hy verder die fyn kuns van opera gaan bestudeer.

Lynelle, ’n oud-Larrie, het in die vroeë 2000’s groot opgang in haar sangloopbaan gemaak toe sy as een van duisende deelnemers deurgedring na die eindronde van die My Top Billing Dream-aanbiederkompetisie.

Sy het egter reeds op skool gereeld die bekers by die Paarl-eisteddfod ingeryg en ook talle pryse vir haar nagtegaalstem in ander musiekkompetisies gewen. Benewens haar geweldige sangtalent het sy ook klavier, viool en tjello gespeel.

Lynelle het haar honneursgraad in operastudies aan die Universiteit van Kaapstad verwerf.

Haar loopbaan het hierna sterk ontwikkel, en weens haar talente het sy vinnig ’n multidissiplinêre uitvoerende kunstenaar, TV-aanbieder, korporatiewe seremoniemeester, aktrise en mediapersoonlikheid geword.

Haar lys toekennings sluit in Kunste Onbeperk se JONG STEM in 2019 sowel as ’n Naledi-prys in 2018, ’n 2017-Fiësta-prys en ’n Fleur du Cap-prys in 2016.

Tans woon dié 34-jarige in Woodstock in Kaapstad, en die volgende paar maande is propvol optredes saam met die Kaapse Filharmoniese Orkes, die Kaapse Barok-orkes, ’n kinderteaterproduksie by die Kunstekaap en shoots vir ’n plaaslike televisiereeks.

Sy en die pianis Stefan Lombard pak ’n Europese toer aanstaande jaar in Junie aan, en sal meer teater en grootskaalse konserte en koöperatiewe optredes doen.

Lynelle sê sy wil binne die volgende paar jaar ’n boek publiseer, en ook haar belangstelling in doodsbegeleiding uitbrei.

Sy het in 2020 reeds ’n aanlyn kursus hieroor gedoen.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article