Die uitslag van die lykskouing en nadoodse ondersoek van Theresa de Villiers, die voormalige Springbok-afrigter Peter de Villiers se vrou, sal nog baie geduld verg.
Die polisie in Gqeberha in die Oos-Kaap sê hulle wag op die uitslag van die toksikologieverslag.
Kapt. Sandra Janse van Rensburg, ’n polisiewoordvoerder, sê dit is nie bekend hoe lank dit sal neem voordat die uitslae bekend gemaak sal word nie.
Theresa is verlede Maandag dood in die swembad van die huis van haar vriende in Gqeberha aangetref. Sy het teen die tyd van haar dood al ’n week lank daar gekuier.
Die toksikologietoets word in Kaapstad gedoen.
Dit is onbekend presies wanneer die verslag bekend gemaak sal word, aangesien die saak nie as dringend gemerk is nie.
Theresa is Vrydag in ’n private diens uit The Gathering Assembly of God Church in die Paarl begrawe.
Die doodstyding van De Villiers se vrou het die Drakenstein-vallei saam met die familie in rou gedompel. Medelye uit die gemeenskap het ingestroom om ondersteuning aan die familie uit te spreek.

