LUISTER | ‘Dalk is dit generasies van trauma wat ons mal maak’ – aktivis

Denver Toroga Foto: Rasaad Adams

Hy is bly dat daardie kontroversiële potgooi-uitsending waarin uitlatings oor die bruin gemeenskap gemaak is opspraak gemaak het, want dit is hoogtyd dat bruinmense se worsteling met hul identiteit aan die groot klok gehang word.

Só het Denver Toroga, ‘n plaaslike aktivis wat hom beywer vir die beskerming van inheemse groepe se regte, verlede week gesê te midde van die rassistiese uitlatings op die Open Chats Podcast wat die hele land aan die gons gehad het.

Die Open Chats Podcast, wat deur vier jong swart Suid-Afrikaners vanuit hul studio in Pretoria aangebied word, is sedertdien van DStv afgehaal.

Die groep het ook Maandag (11 Augustus) in ‘n nuwe episode op hul YouTube-kanaal om verskoning gevra nadat hulle gesê het bruinmense is geestelik versteurd en dat hulle [bruinmense] met hul familielede slaap.

Verskeie politieke partye en nasionale aktiviste het die mes ingehad vir die aanbieders en hulle met regsaksie gedreig.

“Weet jy, dalk is ons bietjie mal. Dalk is ons mal omdat ons nooit herstel het van historiese koloniale trauma nie.

“Jy kan nie ‘n groep mense se taal en erfenis van hulle ontneem en dan verwag dat hulle normaalweg voortgaan nie,” het Toroga in reaksie op die uitlatings in die potgooi-uitsending gesê.

“Jy hoef nie ver te soek om steeds die impak te sien van wat ons ontneem is nie. Hier in Chicago in Paarl-Oos woon ons mense opmekaar.

“Daar is so baie maatskaplike probleme in ons gemeenskap. Ons is fundamenteel getraumatiseer, so daaruit spruit daai malligheid seker waarna hulle verwys,” het Toroga bygevoeg.

Hy sê dis hoogtyd dat daar dialoog gevoer word oor wat hy beskryf as ‘n identiteitskrisis in die bruin gemeenskap.

“Dit het ‘n omstrede gesprek onder ‘n groep mense van ‘n ander ras geverg vir ons om uiteindelik hieroor te praat. Dis ‘n gesprek wat onsself baie lankal moes voer.

“Ons mense weet baie duidelik nie wie en wat ons is nie. Ons sien dit tydens die viering van dae soos Erfenisdag en Internasionale Moedertaaldag.

“Ons geskiedenis het ons getraumatiseer. Generasie ná generasie se trauma. Dit is hoogtyd dat ons oor hierdie dinge praat, ons roots gaan trace en ons regmatige plek in die Suid-Afrikaanse samelewing inneem.”

Luister na die volledige gesprek met Toroga hier:

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Paarl Post – E-edition – 12 March 2026
    Paarl Post – E-edition – 12 March 2026

Gift this article