Die Afrikaanse rolprent #LoveMySelfie is ’n “ontdekkingsreis na binne” en gaan daaroor om jouself en ander, ten spyte van die verlede en toekomstige foute, te aanvaar, maak nie saak in watter ouderdomsgroep jy jou bevind nie.
Dít is die wegneemboodskap wat #LoveMySelfie se regisseur, vervaardigers en akteurs by die kykers wou agterlaat tydens die film se bekendstellingsgeleentheid by die Simonsvlei-wynlandgoed verlede Donderdag (7 Desember).
Die hoofkarakter, Adele Swan, word vertolk deur die gesoute en veelsydige aktrise, Illse Roos. Sy is bekend vir rolle in onder andere Egoli, Fynskrif en Suidooster.
Adele se langverlore vriendin Winnifred word deur veteraanaktrise June van Merch vertolk en die res van swaargewig-rolverdeling sluit in Joanie Combrink, Robyn Scott, Chané Grobler, Hélène Truter, Chanelle de Jager, Moses Williams en Kevin Smith wat die slinkse George vertolk, luidens ’n persverklaring.
Lika Berning is die regisseur van #LoveMySelfie, terwyl Truter ook die draaiboek geskryf het, en Nigel Tattersal, Vlokkie Gordon, en Kurt Darren saam met Berning as vervaardigers opgetree het.
Paarl Post het gaan aanklop by Van Merch om te hoor presies wie Winnifred is.
“Winnifred is ’n no-nonsense-persoon en die ma van ’n outistiese seun. Sy is ook ’n goeie vrou vir haar man en in ’n liefdevolle verhouding,” vertel sy.
Volgens Van Merch het haar karakter ’n “jolige gees, en is ’n “go getter”.
#LoveMySelfie speel af op ’n plesiervaart en is op een van MSC se skepe geskiet tydens ’n tweenag-vaart na Mosselbaai en ’n viernag-vaart na Walvisbaai in Namibië.
Oor dié avontuur vertel Berning laggend dat dit ietwat van ’n “uitdaging” was om op die oseaan te verfilm as gevolg van die seesiekte wat baie mense oorval het.
Om die gaste wat vakansie gehou het te akkommodeer was ook ’n uitdaging. Dit het beteken dat verskeie tonele vroegoggend verfilm moes word terwyl die vakansiegangers nog geslaap het.
Weens die komiese aard van die film is verskeie tonele grapperig – een hiervan is die toneel waarin die karakter Barbie, gespeel deur Robyn Scott, die liedjie “Kaptein Span die Seile” sing en die filmspan behoorlik laat skaterlag.
Volgens Roos neig sy gewoonlik na swaarder rolle, maar het sy hierdie keer ’n “wilde perd opgesaal,” ’n “leap of faith” geneem, en dit geniet om Adele Swan te vertolk.
“Adele is ’n ‘aktrize’, nie ’n aktrise nie. Sy neem haarself ernstig op, en elke dag sit sy haar oorlogsverf aan en kyk die wêreld in die oë,” vertel Roos ewe ernstig.
Sy vertel dat dit ’n aanpassing was om Adele se skoene vol te staan, en dat sy moes “aanhou werk om haar te skep en soos sy te wees”.
#LoveMySelfie wys vanaand by Heroes Restaurant in Brackenfell, en is ook te sien by Epic Cinemas in Bloemfontein.
Daar is hierdie somervakansie ook ’n vertoning by die ATKV Hartenbos Pretpark op 26 Desember en by Apprentice Eatery in George op 27 Desember.
Besoek www.lovemyselfie.co.za/ vir meer inligting.





