Dit was byna ’n rebellie van ouds toe sowat 200 betogers Saterdagoggend die koue aangedurf het om ’n optog in Paarl Hoofstraat te hou.
Die optog is gehou om beswaar te maak oor Nathi Mthethwa, die minister van sport, kuns en kultuur, se voorstel dat die Afrikaanse Taalmonument op Paarlberg hernoem moet word.
Die optog, gelei deur onder andere Conrad Poole, die Drakenstein-burgemeester, en Tertius Simmers, die leier van die DA in die Wes-Kaap, het vreedsaam verloop. Dit was egter onder almal daar baie duidelik – los ons Taalmonument uit.
Die optog het na die Zomerlust-gastehuis gelei, waarna die “Wys jou Staal”-protes-konsert gehou is met kunstenaars soos Gian Groen en Jan Blohm wat opgetree het.
Hier is verskeie luide en soms hard bewoorde eise op Mthetwa gerig om enige plan oor die vernoeming van die Taalmonument te skrap.
Die DA, vanuit die mond van Simmers, het ook ’n beroep op Mthethwa gedoen om beheer oor die Afrikaanse Taalmonument aan die DA beheerde Wes-Kaap te oorhandig eerder as om die monument se naam te verander.
Anroux Marais, die Wes-Kaapse minister van kuns en kultuur, het reeds ’n formele versoek in hierdie verband aan Mthethwa gerig.
Verskeie senior DA-leiers het ook tydens die vergadering van die bestuur van die Afrikaanse Taalmonument sterk kapsie gemaak teen Mthetwa se beoogde naamsverandering.
“Ons verwerp die ANC se voorstel met die minagting wat dit verdien, omdat dit die momument van alle betekenis sal stroop.
“Die DA sal nie rus totdat ons hierdie waansinnige ANC-plan afgeweer het nie.”
Ook het Poole dit duidelik gestel dat die Drakenstein ’n gebied is wat al 11 amptelike talle asook enige ander taal wat hier gepraat word, ten sterkste respekteer. “Respekteer dus ons monument en hou jul hande af.”
* A protest march leading up to a music concert was held in Paarl on Saturday, clearly protesting an attempt by the ANC Minister of Sport, Arts and Culture, Nathi Mthethwa, to have the Afrikaans Language Monument renamed.





