Verlede week het dit aan die lig gekom dat ongemagtige mense hulle voordoen as munisipale werkers om toegang tot inwoners se huis te kry en hulle dan te besteel.

Een so ’n voorval het hom onlangs in Wellington afgespeel toe drie mans hulle voorgedoen het as munisipale werkers wat onder valse voorwendsels kragmeters en die wonings se muurproppe moet nagaan.

In die spesifieke voorval het een van die verdagtes die inwoners aan die praat gehou terwyl twee ander kamstige opnames in die woning gedoen het, waartydens hulle items uit die huis gesteel het.

Volgens Bradley Brown, finansiële hoof by Drakenstein-munisipaliteit, is die munisipaliteit bewus van die spesifieke voorval.

Brown het verduidelik dat die enigste projek wat tans betrekking het op inwoners se voorafbetaalde elektrisiteitsmeters die herprogrammering daarvan is.

“Die Token Identifier-rollover behels dat alle voorafbetaalde elektrisiteitsmeters teen November 2024 geherprogrammeer moet wees. Drakenstein-munisipaliteit se diensverskaffer, ONTEC, het 16 veldwerkers vir dié proses aangestel. Die proses het ongeveer vier jaar gelede begin en 40 528 van die totaal van 40 861 meters in Drakenstein is tot op datum reeds besoek.

“Verbruikers moet kennis neem dat veldwerkers slegs toegang tot elektrisiteitsmeters moet verkry. Geen ander dele van die elektrisiteitsnetwerk, soos muurproppe of ligte, hoef getoets te word nie. Voordat verbruikers toegang tot hul woning of besigheid verleen, moet die veldwerkers amptelike dokumentasie toon,” het Brown gesê.

Dit sluit in:

. ID-kaart met die veldwerker se naam, ID-nommer en foto; en

. ’n amptelike munisipale skrywe wat die proses verduidelik en deur die munisipaliteit se stadsbestuurder onderteken is, asook Drakenstein-munisipaliteit en ONTEC se kentekens bevat.

Dié skrywe moet ook twee munisipale telefoonnommers (021 807 4887 en 021 807 4538) bevat, wat in hierdie verband geskakel kan word.

“Indien ’n verbruiker nie tussen 08:00 en 18:00 op weeksdae beskikbaar is nie, kan afsprake vir na-ure gereël word deur die bogenoemde nommers te skakel.”

Volgens Brown is hulle tans besig om die laaste 333 meters se adresse te identifiseer, wat teen einde Augustus besoek sal word.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Paarl Post – E-edition – 12 March 2026
    Paarl Post – E-edition – 12 March 2026

Gift this article