Die Parabuthus Granulatus, oftewel rowwe-dik- stert-skerpioen.Foto: Paul Bester

Credit: SYSTEM

Hoe dikker sy stert, hoe giftiger is sy steek. Só beskryf dierekenners die giftige Parabuthus Granulatus, oftewel rowwe-dikstert-skerpioen, wat die afgelope tyd sy verskyning in huishoudings in Wellington en die Paarl gemaak het.

Vir hierdie hoogs giftige skerpioen om in gebiede soos Wellington en die Paarl gewaar te word, is nie juis ongewoon nie, aangesien hy hoofsaaklik in Suider-Afrika voorkom.

Die rowwe-dikstert-skerpioen is een van die langste skerpioene in die streek en kan tot 18 cm lank wees.

’n Inwoner van Wellington het einde verlede maand op een van die dorp se Facebook-groepe vir raad gevra nadat hulle binne ’n kwessie van ’n week vier van die skerpioene op hul erf gewaar het.

Eduanne Niemand van Boland Snake Removals 24/7 and Pest Control het in daardie stadium die skerpioen as ’n Kaapse dikstert-skerpioen identifiseer en gesê sy angel kan uiters gevaarlik wees.

Die Kaapse dikstert-skerpioen is van die Parabuthus Granulatus-spesie.

Skerpioene met kleiner kloue en ’n dik stert is gewoonlik die soort skerpioen waarvoor jy versigtig moet wees. Hulle kan uiters giftig wees. Die minder gevaarlike skerpioene het weer ’n kleiner, dun stert met groot kloue.
Kei Heyns, ’n senior natuurbewaringswagter verbonde aan die Robberg Coastal Corridor Protected Environment (RCCPE)

Kei Heyns, ’n senior natuurbewaringswagter verbonde aan die Robberg Coastal Corridor Protected Environment (RCCPE), het by navraag aan Paarl Post gesê dis maklik om ’n giftige skerpioen te identifiseer.

“Skerpioene met kleiner kloue en ’n dik stert is gewoonlik die soort skerpioen waarvoor jy versigtig moet wees. Hulle kan uiters giftig wees. Die minder gevaarlike skerpioene het weer ’n kleiner, dun stert met groot kloue.”

Volgens Heyns kan die meeste skerpioene in Suider-Afrika – veral in die omgewing van die Klein Karoo – saans deur middel van UV-ligte gewaar word.

“Pers fluoresserende ligte word gewoonlik gebruik om hulle makliker in die nag te kan sien. Daar is ’n soort chemikalieë binne hul eksoskelet wat skyn wanneer hierdie lig op hulle val.”

Benewens die rowwe-dikstert-skerpioen is die minder gevaarlike Kaapse dikstert-skerpioen oor die afgelope twee weke ook in ander dele van Wellington asook die Paarl gewaar.

Die vermoede is dat die voortslepende hittegolf en droë weerstoestande met hul verskyning verband hou.

’n Verslag deur die Nyathi Wildlife and Eco Estate toon dat die rowwe dik-stert-skerpioen in provinsies soos die Wes-Kaap, Noord-Kaap, Noordwes en Limpopo voorkom.

“Dit is die giftigste skerpioen in Suider-Afrika en is verantwoordelik vir ’n paar sterftes elke jaar.

“Daar bestaan wel ’n doeltreffende teengif vir die angel van hierdie spesie,” lui die verslag.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Paarl Post – E-edition – 12 March 2026
    Paarl Post – E-edition – 12 March 2026

Gift this article