Die Drakenstein-munisipaliteit se Wellington-stortingsterrein sowel as sy Paarl-oordragstasie het onlangs 98% in AfriForum se jaarlikse stortingsterrein-ouditverslag behaal.
AfriForum het die #SkoonSA-inisiatief in Mei 2014 van stapel gestuur, wat daarna tot AfriForum se ouditverslag vir stortingsterreine gelei het.
Die doel van hierdie oudit is om te bepaal of stortingsterreine (wettig en onwettig) reg deur die land aan die minimum vereistes met betrekking tot die munisipaliteite se afvalbestuurlisensies voldoen.
Afvalbestuurspraktyke in munisipaliteite is aan die hand van hierdie verslag deur AfriForum beoordeel om te bepaal of verantwoordelike bestuur plaasvind en om te verseker dat aanbevelings vir beste praktyk sowel as omgewings-, gesondheids- en veiligheidsvereistes nagekom word.
“Die Drakenstein-munisipaliteit is baie opgewonde oor hierdie gradering aangesien ons oor die afgelope vyf jaar baie moeite met die bestuur van die stortingsterrein gedoen het,” sê Thys Serfontein, senior bestuurder vir vaste afval en vullisterreinbestuur vir die Drakenstein-munisipaliteit.
“Die Wellington-stortingsterrein ontvang sowat 380 ton afval per dag. Op hierdie terrein word die wegdoen van algemene afval – dit is jou munisipale afval wat van huishoudings en sakeondernemings kom – toegelaat. Ons word nie toegelaat om enige gevaarlike afval of mediese afval te aanvaar nie.”
Die munisipaliteit het voorheen verskeie uitdagings in die gesig gestaar.
Gedurende die 2018-’19-boekjaar het sowat 100 onwettige herwinners op die Wellington-stortingsterrein afval versamel. Die munisipaliteit het toe met die informele herwinnaars onderhandel en met die hulp van lede van die publiek daarin geslaag om ongeveer 70 van hierdie voormalige informele herwinnaars te akkommodeer – eers by die stortingsterrein en later by die Paarl-oordragstasie.
Die afgelope vier jaar is werk sowat 30 afvalpreneurs vir hulself by die Paarl-oordragstasie, maar is in die formele afvalbestuurstelsel van die munisipaliteit geïntegreer – wat ook een van die fokuspunte van nasionale regering is.
Die Drakenstein-munisipaliteit is een van die eerste munisipaliteite waar so ’n volledige integrasie van voormalige onwettige herwinnaars op ’n stortingsterrein by die formele geïntegreerde afvalbestuurstelsel van ’n munisipaliteit geïnkorporeer is.
“Die Drakenstein-munisipaliteit word deur die provinsiale departement van omgewingsake as een van die leiers in afvalbestuur in die Wes-Kaap en Suid-Afrika beskou vanweë hul vernuwende idees rakende vaste-afvalbestuur. Petco South Africa het Drakenstein in 2019 erkenning gegee as die munisipaliteit met die mees vernuwende herwinningsplan,” het Serfontein gesê.
Die munisipaliteit het die afgelope twee jaar daarin geslaag om sowat twee jaar se beskikbare lugruim te bespaar as gevolg van behoorlike verdigting en bestuur van die terrein.
Die munisipaliteit beplan om ’n bykomende vyf jaar se beskikbare lugruim te bespaar aangesien die huidige tendens is om maksimum afval te kompakteer.
“Die munisipaliteit het ’n weegbrug van 24 m en 60 ton aangebring en ons wag op die installering van die nuwe sagteware waar voertuie met langer sleepwaens geweeg kan word. Kameras sal aangebring word om te help met die monitering van die afval wat die terrein binnekom,” sê Serfontein.





