Brandbestryders het ’n brand op die plaas Libanon onder beheer gebring voor dit verder versprei het.Foto:

Credit: SYSTEM

’n Groot ramp is afgeweer toe ’n verwoestende brand in sy sporte gestuit is.

’n Vinnig verspreidende veldbrand in die Paarl-omgewing is gou deur die Drakenstein-plaaswag se brandbestryders onder beheer gebring.

Volgens ’n persverklaring van die Drakenstein-plaaswag (DFW) het die brand in die vroeë oggendure van 4 Januarie om ongeveer 01:00 op die plaas Libanon in Lustiganweg, Paarl gedurende beurtkrag uitgebreek.

Die hoë helder oranje vlamme het teen die laagliggende wolke weerkaats en is in die nagtelike ure kilometers ver deur mense opgemerk.

Die DFW-brandweer se reddingspan wat in Paal gebaseer is, het om 01:14 die nuus vanaf ’n DFW-gebiedsbevelvoerder op die betrokke plaas ontvang dat verdere bystand benodig word aangesien die brand buite beheer is.

“Die missie was om die kosbare wingerde te red en verdere verspreiding van die brand na die res van die plaas of naburige plase te voorkom,” aldus die verklaring.

Die DFW het daarna verskeie brandbestrydingsvoertuie en spanne na die toneel gestuur om strategiese posisies in te neem sodat die brand omsingel en geblus kan word en nie versprei nie.

Omstreeks 03:15 was die brand ten volle onder beheer. Die reddingspanne was dankbaar oor die ligte reëntjie wat begin val het toe hulle van die toneel vertrek om ’n paar ure se welverdiende slaap te gaan geniet.

Die rede vir die brand is onbekend, maar volgens die DFV vermoed die eienaar brandstigting.

Die private brand-en-reddingspanne van die DFW beskerm tans 100 aangetekende plase en private wonings in die Drakenstein-munisipale gebied.

Die publiek kan altyd die DFW-noodoproepsentrum bel om brande en voorvalle aan te meld en om bystand te vra.

Bel 086 066 6662

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article