Waajidad Gaidien en Tauriq “Graham” Lottering.

Credit: SYSTEM

Die man wat verlede Dinsdag (15 Augustus) gesterf het in die brand by ’n woonstelblok in Kasteelstraat in die Paarl is as Tauriq “Graham” Lottering (59) geïdentifiseer.

Volgens sy lewensmaat, Waajidad Gaidien, was dit ’n normale dag vir hulle voordat die brand in hul woonstel uitgebreek het.

“Hy het klaargemaak vir werk en ek het klaargemaak om my ma uit te vat en ons al drie was besig. Hy het die ketel aangesit in die kombuis en het drie bekers tee gemaak en die ketel het afgeslaan, terwyl ek besig was in die badkamer. Met dit wat hy vir my sê die tee is klaargemaak, het ons net in die sitkamer twee geluide agtermekaar gehoor soos die kragprop wat skiet. Ons het al drie na die sitkamer gehardloop en toe sien ons dit het begin brand. Die vonke het die mat aan die brand geslaan. Daar was ’n bed in die sitkamer wat se beddegoed ook vlamgevat het en daai bed was onmiddellik in vlamme.”

Gaidien onthou dat Lottering vir haar gesê het om haar ma by die agterdeur uit die woonstel te neem. Toe sy terugkeer om vir hom te help, was die vlamme al buite beheer en sy het self brandwonde opgedoen op haar arm.

“Ek sê toe vir hom kom net uit asseblief. Ek het geskree basies. Toe skree hy vir my van binne af ‘Gaan uit. Onthou net baba, ek is baie lief vir jou. Moet dit nooit vergeet nie’. Dit is die laaste kommunikasie wat ek met hom gehad het.

“Toe Dereck Peceur [van die brandweer] kom en vra of hy met my kan praat, het ek vir hom gevra of daar enige nuus is. Dereck se gesig het vir my gesê daar was nie hoop nie. Dit is ’n dag wat ek nie maklik sal vergeet nie en wens dit nie eens vir my vyand toe nie.”

Gaidien beskryf Lottering as haar linker- en regterhand. “Hy het altyd gesê ek is sy queen. Ek gaan ons stappies in die Arboretum, wanneer ek soggens af was, mis. Hy was baie fiksheidsbewus.”

Suzanne Cyster, ’n buurvrou van die paartjie, beskryf Lottering as ’n mense-mens wat behulpsaam en vriendelik was.

Lottering is Woensdag 16 Augustus volgens die Islam-geloof begrawe. Hy word oorleef deur twee seuns en twee dogters, asook 10 kleinkinders.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Paarl Post – E-edition – 12 March 2026
    Paarl Post – E-edition – 12 March 2026

Gift this article