Die gewilde Tuin van Digters-fees, wat oor die jare gevestig is as die Tuiste van die Afrikaanse digkuns in Suid-Afrika (en die wêreld!), vind Vrydag 15 en Saterdag 16 September vir die 12de agtereenvolgende jaar by die Breytenbach Sentrum in Wellington plaas.
Vanjaar se tema is “lewende woord(e)” – oor digwoorde wat geskep is wat nooit doodgaan nie en gekoester en lewendig gehou moet word en oor nuwe digwoorde en -tegnieke wat die koers van die Afrikaanse digkuns aandui.
Die protesdigter Diana Ferrus, wat vanjaar haar sewentigste verjaardag vier, is die digter wat Vrydagaand 15 September gehuldig sal word. Kunswerke van die digter en skrywer Breyten Breytenbach sal in die Breytenbach-galery te sien wees en ’n groepuitstalling met onder andere Marinta Skupin, wie se reeks kunswerke deur gedigte van Ferrus en Breytenbach geïnspireer is, in die Cloete-gemeenskapsgalery.
Ander hoogtepunte op die program, met die digter Grant Jefthas as programleier, sluit in die oorhandiging van die Ingrid Jonker-prys vir ’n debuutbundel in Afrikaans aan vanjaar se wenner, Dominique Botha, vir haar bundel Donkerberg; voorlesings van hul jongste – en ook vroeëre – gedigte, deur Breyten Breytenbach en Dominique Botha; die bekendstelling van die nuutste Ons Klyntji, die alternatiewe, veeltalige zine-tydskrif met gedigte, kortverhale, fotografie en strokiesprente, aangebied deur Toast Coetzer; ’n paneelbespreking onder leiding van dr. Annie Klopper oor Kunsmatige Intelligensie (KI); ’n onderhoud met die digter en vertaler Daniel Hugo oor Vers & Kapittel II, die tweede bundeling van sy artikels, rubrieke, resensies en onderhoude oor onder meer die digkuns; voorlesings deur die plaaslike Mengelmoesdigters onder leiding van Diana Ferrus; Pieter Odendaal (Ontaard), Tom Dreyer (Nou in infrarooi), Hanru Niemand (Gedaantespel) en Klara du Plessis uit Kanada (Ekke en G) lees voor uit hul jongste digbundels; ’n oop verhoog aangebied deur die jeugdireksie van die Breytenbach-sentrum, waar oud en jonk hul gedigte kan voorlees; musiek en toonsettings van gedigte deur verskeie musikante en kunstenaars; ’n boekstalletjie waar digbundels en ander boeke gekoop kan word, en ’n gesellige saamwees in die digterstuin met digters en liefhebbers van Afrikaanse digkuns.
Kaartjies kos R150 per feesganger vir Vrydag 15 September se program, R275 per persoon vir al Saterdag 16 September se aanbiedings en R350 per persoon vir ’n tweedagpakket met Vrydag sowel as Saterdag se aanbiedings. Studente met ’n geldige studentekaart betaal R120 per dag en opbetaalde lede van PEN Afrikaans kry gratis toegang.
Kaartjiebesprekings kan by Jeannine du Frene by 061 156 5386 gedoen word.. Besoek www.breytenbachsentrum .co.za of die Breytenbach-sentrum se Facebook-blad vir die program.




