Sneeu lê verlede week op die Matroosberg by Ceres.Foto: Matroosberg Reserve


Die kouefronte wat die Wes-Kaap sedert die begin van September getref en talle Bolandse berge spierwit met sneeu geverf het, is heeltemal normaal ondanks die begin van lente – veral met die Wes-Kaap wat vanjaar ’n bogemiddelde nat September ervaar.

So meen Annette Botha, ’n meteoroloog en weerkenner by Vox Weather, te midde van die “verlengde winterweerstoestande” wat tydens die eerste maand van die lenteseisoen in die Wes-Kaap ervaar is.

Koue en stormagtige weer was Kapenaars se lot die afgelope maand, met onder meer die omliggende Dutoitskloofberge wat nog verlede week sneeu gekry het.

“Ons is nog in die oorgang van winter na somer. So, om verdere kouefronte en reën te kry, is baie normaal.

“Die sneeu is ook normaal, maar eintlik meer vir die berge.

“Daar is nog twee maande van lente oor, maar dit lyk definitief asof ons ’n koue, nat begin van hierdie seisoen het. Hy kan beslis nog draai en baie kan gebeur,” sê Botha.

Sy sê dit sal nog ondersoek moet word, maar haar observasie is dat hierdie ’n baie koue en bogemiddelde nat September teenoor die afgelope tien jaar s’n is.

Jannie Strydom, die uitvoerende hoof van Agri Wes-Kaap, het by navraag aan Paarl Post gesê oor die algemeen het die laer temperature meer voordele as nadele vir veral die provinsie se graanboere.

Strydom sê gebiede soos Montagu het reeds ’n hoër gemiddelde reënval vir September (360 mm) teenoor 196 mm oor dieselfde tydperk verlede jaar gemeet.

“Daardie streek kry gewoonlik suidoos-reën in September en Oktober. Die afgelope twee weke se ryp en selfs ysreën het baie skade aan vrugte gebring.

“In sekere gebiede is daar boorde wat geen vrugte aan het nie.

“Deel van ’n goeie winter is die risiko van laat ryp. Reën doen oor die algemeen meer goed as kwaad in die Klein-Karoo.”

Hy sê in Goudini is gondvoorberei­dingsaktiwiteite vertraag aangesien masjiene nie kan funksioneer wanneer die grond te nat is nie, met die gevolg dat aanplantings later sal moet geskied.

Die ysige temperature in die Goudini-omgewing verlede week het ook tot rypskade in plekke soos Rawsonville, Breederivier en Overhex gelei.

Intussen waarsku die Suid-Afrikaanse weerdiens oor ’n laagdrukstelsel wat tussen Sondag en Woensdag oor die land sal beweeg met gepaardgaande reën, donderbuie en sterk wind.

Die Paarl sal waarskynlik ’n nat en koel naweek ervaar met ’n 30%-kans op reën wat vir Donderdag voorspel word.

Dié reënweer sal teen Maandagmiddag laat opklaar met ’n sonnige dag wat vir Dinsdag voorspel word.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article