“Dit is heerlike lente, die winter is verby.”
Wie onthou nie hierdie liedjie wat ons as kinders gesing het nie. Ten spyte van die koue steek nuwe lewe oral die kop uit, bloeisels en nuwe blare aan kaal bome, ’n lus vir die lewe, ’n nuwe begin – met liefde en romanse in die lug.
Op 17 September gaan die klanke van Opera en Operette weer die ou historiese kerkgebou van die Hervormde Kerk in Zionstraat, Paarl, vul – hierdie keer met die tema van lente, liefde en romanse, en met ’n Franse kleur.
Werke van Andrew Loyd Webber, Rodgers en Hammerstein, Offenbach, Mozart en ander sal die aand inkleur.
Pragtige stories word deur die aand se liedere vertel. “Barcorolle”, gekomponeer deur Offenbach, vertel die verhaal van ’n man wat sy romantiese metgesel vra waarheen sy met ’n boot sou wou reis. Hy vra of sy na plekke soos Java of Noorweë wil reis, of na ’n spesifieke blom wil gaan soek.
Die Franse aria “Je veux vivre” (uit Romeo en Juliette) deur Gounod vertel die verhaal waar Juliette so pas met die hertog Pâris gedans het en vir haar bediende sê sy wil nie nou trou nie, maar vir ewig in die droom van jonk wees bly.
Nog ’n pragtige Franse lied, “Le Spectre de la Rose”, handel oor ’n jong meisie wat daarvan droom om met die gees van haar eerste bal se aandenkingsroos te dans.
Pragliedere uit musiekblyspele, soos “Think of me” uit Phantom of the Opera en “Some Enchanted Evening”uit South Pacific, vul die program aan.
Twee bekende plaaslike kunstenaars, Jo-Nette Lekay (sopraan) en Arno Jones (pianis), tree weer op saam met twee studente, Carmen Traut (sopraan) en Dumisa Masoka (tenoor), albei van die Universiteit van Kaapstad. Mira Musica-produksies verwelkom die gevestigde sanger Mthunzi Nokubeka (bariton) op die verhoog. Hierdie kunstenaars lewer ’n gehalte-vertoning in ’n pragtige gebou met uitstaande akoestiek.
Die konsert samel op die aand ook bosse blomme of potplante in, wat aan plaaslike ouetehuise geskenk sal word. Bring dus ’n plant of bos blomme saam.
. Kaartjies vir A Spring evening with Opera and Operetta op 17 September is beskikbaar by Webtickets, of skakel André by 072 658 5168. Koffie en peuselhappies is ingesluit.




