Ek verstaan nie hoekom ek altyd vrae het oor goed waaroor ander mense skynbaar nooit eens nadink nie. Die lys van hoekoms en waaroms, van waar, wanneer, wie en vir wat, word steeds langer.
Soos die afgelope Lentedagviering op 1 September, wat weer eens niks was van wat ek dink die dag behoort te wees nie. Ek is al 61 jaar in die Boland en kan kwalik drie windstil, sonnige en reënlose lentedagvierings onthou. Gedurende my skooldae het ons bykans verkluim. Ons moes met wit rokke en blomkranse op ons koppe “Heerlike Lente” sing en in ’n kring dans. Hoe gek.
Dis oor dié goed wat ek vrae het. Wie het wanneer en waar en waarom en vir wat besluit dat 1 September oor Suid-Afrika heen Lentedag moet wees en sommer die witrok-affêre ook bygevoeg? Hoe het dit gebeur en op watter wyse het dié iemand dit reggekry om dit te proklameer? My hele wese rebelleer teen enigiets wat ander vir my besluit en waarmee ek nie saamstem omdat ek nie die sin daarin sien nie.
Moontlik verstaan ek so ’n bietjie van die denkpatroon agter Lentemaand. Die natuur moes, om verskeie redes, ’n vasgestelde patroon hê. Dus ’n maklike sommetjie. Twaalf maande, vanaf 1 Januarie tot 31 Desember, word eweredig ingedeel in vier mensgemaakte seisoene. Maak nie saak of dit steeds winterweer in die Boland is nie. Die maand is as Lentemaand geproklameer, al is dit meestal alles behalwe sonskyn, blomreuke, skoenlappers en huppelende natuurlewe.
Nog ’n Septemberding wat my nie net wars in my kop maak nie, maar waarteen my vrye gees ook rebelleer, is: Hoe het dit gebeur en vir watter rede het een persoon besluit dat Erfenisdag ’n Braaidag in Suid-Afrika is en dit onmiddellik vir muishond en sy maat reg en goed was? Behalwe dat die openbare vakansiedag vir jare lank steeds ’n muis baar, soos al die ander 11 openbare vakansiedae, kan die absolute minimum landbewoners dit bekostig om vleis te braai, wat nog te sê van al die eksotiese bykosse wat jaarliks nog meer en nog duurder word en meer advertensieruimte gebruik? Lyk vir my of ’n klomp “iemande” iewers geldelike voordeel trek, sonder enige sentiment oor erfgoedere. Wat hieraan is reg en akkommoderend en regverdig en inklusief op die dag?
Ek wonder of die betrokkenes enige kennis het oor die ontstaan en die geskiedenis van vleis oor kole gaarmaak, hetsy op ’n rooster of daarsonder? Ek en my tydgenote en ons ouers en voorouers, wat almal onder dieselfde omstandighede en in dieselfde tydgleuf in ons land met sy droewe geskiedenis grootgeword het, weet moontlik meer daarvan.
Ek het nogtans die alwetende Mnr. Google gevra.
Ek was absoluut verbysterd, soos Marie Brooks altyd gesê het, toe ek die verduideliking sien, maar wat ’n geluk tref my toe! Die antwoord op my vraag van waar en by wie Google sy inligting kry. Definitief van enigeen wat genoeg selfvertroue het te glo dat hy ’n kundige is oor ’n spesifieke onderwerp. Of is hierdie nou weer ’n vereenvoudigde antwoord? Makie sakie. Ek is oortuig daarvan.
Om vleis sonder die hulp van ’n stoof gaar te maak, was ’n noodsaaklike vaardigheid vir almal wat op die trekpad was – soos ook deesdae se veelgeroemde potjiekos. ’n Potjie was dit wat hulle tot hul beskikking gehad het en in een pot saam gaargegemaak het; alles uit nood gebore. [Dis] niks anders as vandag se bredies nie. Hulle het selfs veldkosse daarby gesit. Hiervan word in die Bybel vertel, asook van visbraai op die kole.
Hoe anders sou die Voortrekkers kon maak, asook almal wat die binneland in getrek het en dit oor ’n tydperk van ’n paar jaar bewoonbaar gemaak en groot en vooruitstrewende dorpe met ’n gesonde ekonomie en gemeenskapslewe gestig het? Hulle het gesukkel en swaargekry gedurende hul trekkerslewe, maar het staal gehad en wondere verrig met die grond wat hulle ook daai tyd ten duurste van die regering gekoop het – let wel, nie gesteel het nie. Baie Suid-Afrikaners se voorouers was deel van daai generasie.
Dit laat my met vrae wat elke denkende Suid-Afrikaner maklik sal kan beantwoord, maar definitief nie die Cele’s, Ramaphosa’s, Sisulu’s, De Lille’s asook die Mashatiles en die ultra-kundige, selfversekerde en baie belangrike minister Kgosientso Ramokgopa nie.
Aan hulle het ek net een vraag; Wanneer gaan die lig aangaan in u koppe en dus Eskom ook weer aanskakel om permanent te brand?
Met daai helderheid kan u ook maklik en vinnig kaderontplooiing uitroei, geplunderde infrastruktuur herstel en heel beste: die staatskapers beloon met oranje uniforms. Moet hulle net nie in die Mangaung-tronk verblyf gee nie – daar is brandgevaar.
Meneer Ramaphosa, vir u en u lakeie, apartheid het niks te doen met wat die afgelope 30 jaar in Suid-Afrika gebeur het nie. Dus sal Erfenisdagvieringe niks kan bydra tot samewerking en eenheid nie, want u en u en ander stook steeds rasse-onverdraagsaamheid. Pleks dat u die kragstasies stook.

