Soek vir daai oomblikke waar jy weer die vreugde in jou siel kan terugsit. Skep die tye waar jy weer uit jou maag kan skaterlag en veg vir jou daaglikse porsie vrede. Ek weet nie van jou nie, maar ek het nodig om dit deesdae al meer in aksie te stel en dit ’n daaglikse ingesteldheid en roetine te maak.

Noem dit doepa vir die siel, ankertjies vir die onweersdae of sommer net wat jy wil. Solank daai lekker ding wat jy doen of ervaar net weer die vreugdestenkie volmaak, want wraggies – doen ’n mens dit nie, gaan Eskom en die lot daai laaste bietjie lewenslus, vrede en vreugde uit jou wurg. My tenkie (nee, nie my petroltenk nie) het juis so ’n paar weke gelede daai behoorlike opvul ontvang. My kuier saam met twee goeie vriende, wat ek baie lanklaas gesien het, het die truuk behoorlik gedoen. Die kuier was kort, maar kragtig.

Een van daai kuiers waar geen tekort aan skaterlag was nie, al het julle mekaar lanklaas gesien, laat dit voel asof julle nie ’n dag van mekaar geskei was nie. Die inhaal van die draaie wat die lewe met ons almal loop, word met lus gedeel; dan nog ’n onthou- en lag-oomblik dat jy amper ’n tekort aan asem ervaar.

En met elke staaltjie, elke porsie wysheid wat gedeel word en lesse geleer uit toe en nou, het ek amper gewens ons het ’n volle naweek gehad om langer te mag vashou aan daardie sielshelende spasie.

Nog ’n lekkerkry- en lekkervoel-oomblik is toe ek met groot genoegdoening vir “oom-gee-my-krag” sommer so ’n lekker dwarsklap kon gee op een van daai dae toe die kragwoorde net die tong en mond wou verlaat. Toe my stopteken . . . haal diep asem . . . tel stadig tot by twintig . . . neem jou mag terug. Vir die volgende paar ure gaan daar nie krag wees nie, maar jy het in jouself die krag om beheer oor die situasie uit te oefen. My voete het koers gekry na die jeugsentrum so ’n ent weg van waar ek woon. Dis vakansietyd vir die skoolkinders. ’n Vakansieprogram is op die spyskaart vir die dag. En glo my, niks is vir my so lekker as om die vrolike, spontane uitdrukkings van kindergesiggies in aksie te sien nie.

Ek kon weer saamspeel en lag.

Te oordeel na die skaterlag van die kinders, wil ek glo dat my danspassies tydens die ysbreker-deel nie sleg was nie. Die inheemse speletjies op die landjie het die adrenalien verder laat pomp. En in daai oomblik verdwyn die sorge van ’n spertyd wat gehaal moet word; word my dag heerlik anders ingekleur as wat ek verwag het. En my vrede- en vreugdesbekertjie loop oor. Ek het ’n huppel in my stap terug huis toe, en teen daardie tyd is die krag en die lig terug en pak ek my dag verder met vreugde aan.

Een van die goeters wat deesdae soos ’n klippie in die skoen krap, is my dissipline rakende lees. Ek praat nie van daai vinnig-deur-die-dag-se-sosiale-platform-inskrywings lees nie; nee, ek praat hier van ’n goeie boek in die taal van jou keuse neem en lees, of daai tydskrif of koerant van voor tot agter lees. En was dit nie ’n lekker gevoel om weer daai gewoonte af te stof en deel van my daaglikse doenlysie te maak nie. Horisonne verbreed. Nuwe kennis word bygebring en die siel is gevoed. As ’n bonus kry ek nuwe inspirasie by, want my eie potlood is weer skerp. Vir my is die harde les geleer dat ons so vasgevang kan raak in ons eie pas voor die skootrekenaar, in die kantoor, by die huis met al die verskillende dinge en pligte wat nagekom moet word, dat ons soms die ander ewe lekker doen-goed afskeep – soos om te lees vir die lekkerte daarvan. Hoop jy tel sommer gou weer daai boek op wat jy nou al vir ’n paar maande wik en weeg om klaar te lees (soos ek . . .).

My groenvingers is hier in die hartjie van die winter ook weer aan die woel. Die groenertjies hou mooi belofte in en dan het ek sommer vir die mooigeit daarvan ’n klompie sonneblomsade geplant. Ek’s seker dit sal iemand se hart bly kan maak as dit uiteindelik sy goudgeel blom in volle prag begin deel.

Daar is die dae dat die gemoedsbollie vir sommer alles en almal die oorhand wil kry. Nee wat, dan karaoke ek sommer in ’n japtrap daai onweerswolkies weg, gooi ’n stukkie vleis oor die kole, skink ’n glasie port en die lewe is weer ’n fees. Vir my is dit die gees van Suid-Afrikaners – ons laat ons nie sommer deur enige dwarswindjie van koers af kry nie.

Nog minder laat ons toe dat mense of omstandighede ons vreugde en vrede steel.

Nee wat, ons draai die volumeknoppie harder en “kappityt” saam met Bok van Blerk se “wys my jou lemoene en jou boerpampoene”!

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article