Die groot dae is weer hier en die meeste mense kan nie wag om ’n lui-lekker dag met hul geliefdes te spandeer nie.
En dan natuurlik ook om dit te doen om ’n plesierige tafel terwyl ’n feesmaal geniet word.
Hier is ’n paar maklike en vinnige, maar heerlike Kersfees resepte, om jou familie mee te trakteer.
Fetakaas gevulde plathoender (6 porsies):
Jy benodig:
- 1,5 kg hoender, verkieslik losloop
- 1 koppie gekrummelde fetakaas
- 3 Eetl. baie fyn gesnipperde uie
- Die sap van een suurlemoen asook die skil liggies gerasper
- 2 tlp. tiemie2 tlp. roosmaryn
- 2 eetl. vars basiliekruid blare, gesnipper
- 2 eetl. ingelegde peppadews, gesnipperde (opsioneel)
- Sout en vars gemaalde swartpeper.
So maak jy:
Sit die hoender met die borskant na onder op ’n snyplank. Knip met ’n skerp kombuisskêr dwarsdeur die ruggraat van die hoender, van die holte tot bo in die nek. Draai die hoender om, vou die hoender oop en druk met die palm van jou hand op die borsbeen en druk plat, totdat hy letterlik knak.
Meng die olie, suurlemoensap, -skil en kruie saam. Geur na smaak.
Meng die helfte van die olie-mengsel met die feta en peppadews tot ’n dik pasta vorm.
Sit jou plathoender, vel na bo, in ’n groot braaiskottel. Maak die vel van die nek-kant versigtig los en begin smeer van die fetamengsel eweredig onder die vel oor beide die borsies. Maak die vel verder los soos jy die mengsel smeer al onder die hoender se vel na die duie en boudjies, maar wees versigtig dat die hoendervel nie skeur nie.
Smeer die orige olie-kruiemengsel oor die hele hoender.Intussen maak jy ’n lekker kuiervuur en wanneer daar kole is, braai die plathoender oor matige kole vir 50 minute. Draai gereeld om om te verseker dat hy goudbruin braai en nie brand nie.
Indien jy die oond methode verkies, rooster die hoender in ’n vooraf verhitte oond van 180 C vir 45 minute. Om te toets of die hoender gaar is, prik die dikste deel van die dy met die punt van ’n skerp mes. As die vloeistof helder uitloop, en nie meer pienk is nie, dan is jou Kersfees hoender reg.
Sny in porsies en sit dadelik voor met ’n groot groen slaai asook die verpligte aartappelslaai.
Die heel beste aartappelslaai (6 porsies):
Jy benodig:
- 1,2 kg groot aartappels
- 2 koppies mayonnaise
- ½ koppie gewone jogurt
- 1 eetl. matige mosterd
- 1 tlp. asyn (appel of wyn)
- ¼ tlp. paprika
- 4 hardgekookte eiers, geskil en gekap
- 2 selderystingels, fyn gesny
- ½ koppie baie fyn gesnyde ui
- 2 tlp. vars gekapte dilleSout en peper na smaak
So maak jy:
Sny die aartappels in kwarte en plaas in ’n groot pot. Vul die pot met koue water totdat dit 2 cm oor die aartappels is. Sit die pot oor hoë hitte en bring tot kookpunt.
Sodra dit kook, voeg twee tlp. sout by en kook die aartappels vir 13-15 minute tot vurk maklik deur kan druk.
Meng intussen saam die mayonnaise, jogurt, mosterd, asyn, paprika en sout en peper na smaak. Roer tot glad.
Sodra die aartappels baie sag is, dreineer. Verwyder die los skille en sny die aartappels in klein blokkies. Dit is goed as hulle sag en krummelrig is. Plaas die aartappels in ’n groot bak.
Meng die slaaisous liggies by totdat dit die aartappels goed bedek. Roer dan die eiers, seldery, uie en dille by. Proe, dan of nog sout en peper nodig is. Garneer met nog ’n bietjie vars dille en paprika.
Bedek die aartappelslaai en verkoel vir ten minste vier uur. As jy tyd het om dit vooruit te maak, smaak dit nog beter op dag twee! Hou verkoel in ’n lugdigte houer vir tot een week.
Japtrap-koekstruif (6 porsies):
Jy benodig:
- 1 pak vinger beskuitjies (soos Boudoir)
- Aarbeikonfyt
- 4 piesangs
- 1 blik perskes in stukkies gesny
- 1 liter vla
- 500 ml room, styf geklop
- ¼ koppie brandewyn, whiskey of rum
- 2 Flake sjokolade, fyn verkrummel
So maak jy:
In ’n groot glas- of poedingbak, pak ’n laag van die beskuitjies om bodem toe te maak. Smeer die beskuitjies dan met ’n lagie aarbei konfyt.
Dan kom die gekerfde piesangs bo-oor gevolg deur ’n laag van die helfte van die vla.
Volg dan op met die laaste laag beskuitjies, weer gesmeer met konfyt en dan die perskes. Gooi nou toe met die res van die vla en dan ’n baie dik laag geklopte room.
Sprinkel die fyn sjokolade bo-oor en rus dan die nagereg in die yskas vir ’n halfuur en bedien.Volg dieselfde riglyne maa jy:r op ’n kleiner skaal en vul individuele glase met koekstruif.
Geniet dit!




