Dit is tans onseker of die munisipale bestuurder, dr. Johan Leibbrandt, se termyn met nog vyf jaar verleng is.
Leibbrandt se termyn het verstryk en die pos van Drakenstein- stadsbestuurder is verlede jaar geadverteer waarna onderhoude plaasgevind het.
Maar inligting wat in Paarl Post se besit is, dui daarop dat nog vroeg in die aanstellingsproses van ’n nuwe munisipale bestuurder, die munisipaliteit se burgemeesterskomitee eenparig besluit het dat Leibbrandt se termyn met nog vyf jaar verleng moet word.
Volgens twee bronne het die ministerie van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake (Cogta) die aansoek afgekeer om Leibbrant se termyn te verleng. DM is dus ses maande vergunning gegee om ’n nuwe munisipale bestuurder aan te wys.
Die burgemeester, Conrad Poole, het gesê alle protokol is gevolg met die advertering van die pos. Hierna het ’n paneel en kundige werwingskonsultante almal besluit dat Leibbrandt die beste kandidaat vir die pos was.
Verder se Poole die provinsiale departement van plaaslike regering het die proses hersien en dié was tevrede met die uitkoms.
“Die aanstelling van die stadsbestuurder is eenparig deur die Drakenstein-munisipale raad op 30 November goedgekeur.”
Maar goedkeuring van die raad is onderhewig aan finale goedkeuring deur die minister van samewerkende regering en tradisionele sake wat goedkeuring vir ’n tydperk van ses maande verleen het.
“Dr. Leibbrandt is dus wettig in die pos van stadsbestuurder en het ’n geldige kontrak gesluit,” sê Poole.
Poole het afgesluit deur te sê Cogta het die behoefte uitgespreek om verder by hierdie saak betrokke te raak en het onderneem om Drakenstein-munisipaliteit voor die einde van die maand te besoek.
“Daar is ’n sterk moontlikheid dat hierdie aangeleentheid opgelos sal word en dat die ampstermyn verleng sal word soos goedgekeur en ondersteun deur die volle raad. Dit is dus nie nodig om die pos te adverteer nie.
“Drakenstein-munisipaliteit glo dat die leierskap van dr. Leibbrandt na baie van sy innoverende en transformerende projekte kyk, en ek is oortuig daarvan dat die verdere verbintenis met Cogta hierdie broodnodige kontinuïteit en administratiewe stabiliteit vir die Drakenstein-gemeenskap en die personeel sal bied.”





