Min dorpe het deesdae nog sy eie lewende legendariese inwoner, maar Klapmuts kan wel spog met sy legendariese kroegman, Duggie Ntotise.

Dit is dus met baie nostalgie dat talle gereelde besoekers aan een van die oudste bestaande kroeë in die land, die Klapmuts-hotel, nou van hierdie geliefde kroegman afskeid neem.

Op 81-jarige ouderdom skink Duggie al vir langer as 60 jaar die voggies agter die kroegtoonbank vir talle geslagte boere, sakelui, politici en sommer net Jan en alleman in die gewilde kroeg van die Klapmuts-hotel – alles onder die wakende oog van die bekende plakkaat van ’n kaal vrou wat al dekades lank bo die deur hang.

Duggie vertel stout dat baie mans deur die jare haar telefoonnommer wou hê.

Die dekor van die kroeg is al dekades nog dieselfde – ook die kenmerkende knipmesse en Disprins wat agter die toonbank te koop is, knus langs die groot versameling drank wat aangebied word.

Duggie ken elke millimeter van die kroeg, ook die meeste van sy gereelde kliënte se drankies.

Duggie is ook so ’n deel van die kroeg dat die talle gereelde besoekers wat hier vir ’n sopie aanklop, baie vinnig vir enige ander kroegman vra: “Waar is Duggie?”

En keer op keer ontvang Duggie sy “aanhangers” met ’n breë glimlag en ’n glinster in die oog. Hy sal ook baie vinnig vir jou uit “sy” kroeg boender as jy te veel agter die blad het of rumoerig begin raak.

Issie Hodes, die destydse grootbaas van die Klapmuts-hotel, het die 20-jarige Duggie, kort nadat hy uit die ou Transkei in die Kaap geland het, aangestel. Hy het eers in die kombuis gewerk, toe as kelner en van 1979 af as kroegman.

“Daardie vroeë tye,” onthou Duggie, “was ’n bietjie swaar, so met ’n swartman agter die counter. Maar die mense wat ingekom het, was altyd happy met my.”

Hy kan baie stories vertel wat oor dié ses dekades heen strek – meestal lekker, vermaaklike stories, maar ook ’n paar hartseerstories daarby.

Die jare het egter aangestap en Duggie wil vir ’n verandering ’n bietjie rus. En op die ouderdom van 81 mag hy maar.

Hy gaan wel geweldig deur talle van sy gereelde kliënte gemis word.

Een hiervan is die bekende skrywer en storieverteller Johann C. Bakkes. Bakkes het in een van sy kortverhale oor Duggie geskryf. Hy sê hy stap oudergewoonte eendag die kroeg in en se vir Oom Duggie hy het ’n storie oor hom geskryf. Hierop antwoord Duggie: “Johannes, ek kan nie lees nie, maar my oë is vol!”

Nog ’n skrywer wat die kroeg gereeld besoek, is Jean Oosthuizen: “Oom Duggie het oor die jare so deel van Klapmuts se kroeg geword soos wat daai laagwater-poster teen die kroeg se muur deel is daarvan. ’n Mens kan jou skaars daardie watergat sonder oom Duggie indink.”

Hy was veel meer as net ’n kroegman. Vir menige kroegvlieg was oom Duggie oor die jare biegvader, storieverteller en luisteraar par excellence – veel beter as wat menige dominee ooit sou kan droom om te wees. Oom Duggie se kroeg was ’n plek waar menige dors besoeker sonder vrees vir veroordeling kon afpak oor hul lief en leed met die wete what happens in Klapmuts, stays in Klapmuts. Met hom agter die toonbank was daar altyd ’n gewillige oor wat luister. By oom Duggie se kroeg het jy veilig gevoel, want daar was veel meer as net ’n lafenis vir die keel – lafenis vir die siel is ook opgedis. Mag daar iewers in daardie legendariese kroeg ná oom Duggie se aftrede ’n plaatjie ter ere van hom aangebring word ter nagedagtenis aan ’n bedreigde spesie van ware kroegmanne, van wie hy waarskynlik een van die laastes was.

Die oud-joernalis Francois Lötter, wat gereeld op ’n Vrydagmiddag saam met skrywers, musikante en dies meer hier “vergader”, het onthou: “Ek was die eerste keer in die Klapmuts-hotel se kroeg toe die skrywer en my vriend Johan Bakkes my genooi het om een Vrydag saam met hom ’n bier te gaan drink. Dit het ’n kwartaallikse – soms meer, soms minder gereelde – samekoms geword, en talle ander skrywers, ensovoorts het by ons aangesluit. Die Klubmutse is gebore.

“Hulle het van oral gekom en saam het ons gesels oor die dinge wat ons pla en wat ons dra.

“Oom Duggie was altyd daar, behalwe as hy met verlof was. Ek kan nie onthou dat hy ooit nié daar was omdat hy siek was nie. Hy was maar net daar. Net soms op druk tye – gewoonlik op ’n Vrydag – het hy hulp gehad.

“Oom Duggie was nooit haastig of ongeduldig nie en jy moes ook nooit haastig of ongeduldig wees as Oom Duggie sy tyd gevat het om jou bier uit die yskas of jou kleingeld uit die kasregister te kry nie.

“Kwaad of bakleierig het ek hom ook nooit gesien nie. Hy het sy werk rustig en met ’n ouwêreldse hoflikheid gedoen.

“Ons sal Oom Duggie mis. Maar ons sal steeds Klapmuts-hotel toe gaan, al werk hy nie meer daar nie. Miskien sal ons hom die eerste keer ná sy aftrede saamnooi sodat hy kan voel hoe dit voel om bedien te word.

“Die Klapmuts-hotel se kroeg sal vir die Klubmutse altyd Oom Duggie se kroeg bly,” voeg Lötter by.

Gerrit Rautenbach vertel dat oom Duggie altyd “jou koue ietsie” reg gehad het wanneer jy by die kroeg inloop.

“En hy onthou jou naam. Met sy skuifelstappie en kugstem sorteer hy almal wat wagtend vir ’n ietsie is uit en vra hoe dit met jou gaan. En as jy hom vra of alles goed is sy kant antwoord hy met sy kuggie: “Ja, natuurlik. Altyd.” “Oom Duggie, mag dit steeds altyd met jou goed gaan. Ons drink ’n loopdop op jou, oom Duggie,” het Rautenbach gesê.

Die nuwe eienaar van die Klapmuts-hotel, Mark Alport, het besluit om Duggie tydens sy aftrede te ondersteun en op 2 September ’n veiling “Doenit vir Duggie” ter ere van hierdie steunpilaar van die hotel te hou. Talle opwindende items sal deur die veilingmeester Tiny van Rensburg opgeveil word. Die veiling beloof groot pret met kosstalletjies en dies meer. Die dag begin om 13:00 en die veiling om 16:00.

’n Trust is vir Duggie gestig en alle opbrengste sal daarin gedeponeer word.

Vir skenkings (geldelik of veilingitems) kontak Deidre by 072 959 5870; Lorretta by 072 3918936; Tiny by 071 152 9753 of Mark by 074 797 7268. En dalk, maar net dalk, gaan Duggie ’n gas-verskyning agter die kroegtoonbank maak en vir oulaas roep: “Kom ons drink!”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article