Lees jy genoeg? Voer fiksie jou gereeld weg na ’n ander wêreld? Slaan jy die woordeboek gereeld na vir die betekenisse van nuwe woorde wat raakgelees is? Laat die nuus gereeld jou moed tot in jou skoene sak? Is jou boekrak vol, en gunstelingboeke vol varkore? Het jou koerant koffie-ringe op soos jy huidige politieke kwessies saam met jou ontbyt verslind? Kyk jy gereeld by die venster uit, of trek te laat weg by ’n groen lig en bekommer jou oor wat die toekoms inhou?
Ja, ek dink ons almal ervaar die bogenoemde, maar nie naastenby genoeg nie. Nie genoeg nie, vra jy? Hoekom moet ek elke dag in negatiwiteit leef dink jy?
Nee, dit gaan nie hieroor nie, maar eerder oor die feit dat dit belangrik is om jouself, jou sienings en gedagtes te verryk en uit te daag, want sonder dit vind groei nie plaas nie.
’n Mens kan ook nooit genoeg weet nie, en om meer te lees, verbreed jou algemene kennis, en kan jou dalk net red uit verskeie tameletjies waar jou nuutgevonde kennis jou veiligheid kan beteken.




