Grant Jefthas, ’n oudleerder van Groendal Sekondêr, het onlangs se eerste digbundel die lig laat sien.

Credit: SYSTEM

Grant Jefthas, ’n bekende inwoner van Franschhoek, het onlangs sy debuut-digbundel, AfvlerkMens, bekend gestel.

Jefthas, ’n oudleerder van Groendal Sekondêr in Franschhoek, sê sy liefde vir digkuns kom reeds van skooldae af.

“Ek het in graad 6 ’n wonderlike Afrikaans- onderwyser, mnr. Henry Jacobs, gehad. Meester Jacobs, soos hy bekend was, het die leerders altyd uitgedaag met die voorbereiding en voorlees van prosa en veral digkuns. Dis waar ek verlief geraak het op digkuns. My wyle antie Lenie Rose het my ook geïnspireer om gereeld te lees en die Franschhoek-biblioteek was soos ’n tweede tuiste,” vertel Jefthas.

Hy vertel hy was maar net 13 jaar oud toe hy sy eerste gedig, “Die Beste” geskryf het.

“Dit was die aand toe ek by die skool se jaarlikse prysuitdeling as algehele beste akademiese presteerder aangewys is. Ek was in die wolke en wou myself kreatief uitdruk,” onthou hy.

Jefthas se digbundel, AfvlerkMens, bestaan uit 59 gedigte, geskryf in standaard- sowel as Afri-Kaapse Afrikaans.

“Ek het baie van die gedigte as student geskryf, as deel van toneelstukke vir my dramagroep, DIVACO. Ek werk dus al byna 15 jaar aan die boek.”

Hy sê die sentrale tema van die bundel is lewenstryde en oorlewing.

“[Dit gaan oor] lewenservaringe wat ons almal deurgaan as mens. Ek besin op ’n kreatiewe manier oor my herkoms en bring hulde aan dié wat my gemaak het wat ek is. Die bundel is opgedeel in drie hoofstukke: ‘Val’, ‘Lê’ en ‘Opstaan’.

“Ek en my goeie vriend, Hamer de Beer, het een aand voor die kaggel in Wellington ’n diep gesprek met ’n glasie wyn in die hand gehad. Ons het gesels oor ons liefde vir literatuur en die uitvoerende kunste asook hoe skryf terapeuties is. Dié gesprek het diep geraak toe ons lewenstryde bespreek. Dis toe Hamer lag en sê: ‘Ons is afvlerkmense. Ons raak diep. Ons geniet ’n wyntjie, jazz en digkuns’. Dis waar die titel vandaan kom,” vertel hy.

Jefthas se ander gedigte is “As jy hardloop”, wat die tweede plek in die Franschhoek-literatuurfees-digkompetisie in 2010 behaal het. Dié gedig is in Maskew Miller Longman se gr. 11-Afrikaans-handboek, Afrikaans sonder Grense. Sy gedig “Moordtoneel” is in 2020 in die bloemlesing “Kreatio in Motu” deur Kreatio gepubliseer, en sy gedig “Vreetsaam” het in Januarie vanjaar die top-20 in Litnet se Eet my Woorde-digkompetisie gehaal.

Volgens Jefthas is hy ’n groot aanhanger van die bekroonde digter Ronelda S. Kamfer omdat sy altyd bereid is om raad te gee en as mentor op te tree.

“Verder lees ek ook die werke van baanbrekers soos Adam Small en Ingrid Jonker asook die Amerikaanse digters Ebony Stewart en Rudy Francisco. Ek vind die kulturele verskille in skryfstyl fassinerend. Deesdae word ek geïnspireer deur nuwe opkomende digters soos Lynthia Julies en Ryan Pedro.”

Sy raad aan opkomende digters is: “Lees, lees, lees. Voordat jy skryf, moet jy baie lees en deeglik navorsing doen. Suid-Afrika het wonderlike digters. Ek vind ook ’n herlewing in Afrikaans met nuwe opkomende digters wat in ’n taal skryf wat ons gemeenskap praat en verstaan! Ek raai aspirantskrywers ook aan om die kuns van kreatief skryf te bestudeer. Die reëls is belangrik. Vat kanse en skryf vir kompetisies in. Dis die resep wat ek gevolg het.”

Jefthas woon en werk tans in Stellenbosch en het sy BCom-graad in kommunikasiebestuur in 2009 aan die Noordwes- Universiteit (Potchefstroom) verwerf.

Om Jefthas se digbundel te koop, besoek minimalpress.co.za.. Grant Jefthas, a former learner of Groendal Secondary in Franschhoek, recently published his first poetry book.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article